Afskeid geneem van geliefde oupa Piet

Oom Piet Wannenburg

Piet Wannenburg, ’n bekende en geliefde inwoner van die Oudtshoorn Aftreeoord, is verlede Donderdag (25 Maart) in die ouderdom van 93 jaar oorlede.

Wannenburg, ’n ere-lid van die Oudtshoorn Rotariërs tot met sy afsterwe, was ook ’n stigterslid van die Oudtshoorn Aftreeoord.

Hy is Dinsdagmiddag vanuit die NG-gemeente Park op Oudtshoorn begrawe. Voor op die begrafnisbrief is ’n aanhaling van Wannenburg: “Ek hoop hulle onthou my as ’n nederige mens.”

Voordat Wannenburg na die aftreeoord verhuis het, het hy op die plaas Rooiriver, oos van De Rust, geboer.
Dalia Wilck, president van die Oudtshoorn Rotariërsklub, het namens die klub haar innige meegevoel met Wannenburg se naasbestaandes betuig en haar waardering uitgespreek vir sy waardevolle bydrae tot die klub.

Wannenburg was in 1985/1986 president van die klub en is ’n ontvanger van die Paul Harris-trofee, die hoogste eerbetuig wat deur die Rotariërs aan ’n lid toegeken word.

Wannenburg was ’n kranige sportman en het oor die jare rugby, tennis, gholf en rolbal gespeel. Hy is ook ’n voormalige president van die Oudtshoorn Gholfklub.

Wannenburg word oorleef deur drie seuns, Pietie, Carl en Francois, nege kleinkinders, Beatrie, Piet, Phoebé, Pedrie (die oud-Springboklosvoorspeler), Callie, Odette, Elize, Louis en Alma, en twaalf agterkleinkinders.

Phoebe (Calitz) skryf in ’n Facebook-plasing oor haar oupa: “Ag liefste Oupa Piet. Wat ‘n wonderlike oupa was jy nie.!! 93 jaar. … Dankie vir die mooi voorbeeld.”

Odette (Heyns) skryf op Facebook: “Ai my Oupa Piet waar begin ’n mens. So mooi gesonde lewe vir 93 jaar.

Ons gaan Oupa vreeslik mis!! … Ons was so bevoorreg om Oupa so lank in ons lewe te kon hê. … Oupa was ’n wonderlike oupa en ons het so baie pragtige herrinneringe met en van Oupa.”

1 Comment on "Afskeid geneem van geliefde oupa Piet"

  1. Elsa Gray (Wannenburg) | 03/04/2021 at 21:45 |

    My dierbare oom. Ek sal jou so baie mis.

Comments are closed.