Woede na botsing op berugte hoek

Skermgreep van Baron van Reede- en Van der Rietstraat. Bron: Google Maps

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n motorfiets-ryer Maandagmiddag ernstig beseer is in ’n botsing naby Oudtshoorn se middedorp.

Die bestuurder is per ambulans na die hospitaal geneem.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete, is ’n pasiënt wat aan die beskrywing voldoen Maandag in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem met veelvuldige sagteweefselbeserings. Hy ontvang steeds behandeling in die hospitaal.

Die botsing op die berugte hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat het volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, omstreeks 13:10 plaasgevind. “Na bewering wou die bestuurder van ’n Volkswagen Polo regs opdraai in Van der Rietstraat uit Baron van Reedestraat uit, en het die bestuurder nie die motorfiets gesien nie.”

Lesers het woedend op Die Hoorn se Facebook-bladsy gereageer omdat die hoek berug is vir die baie botsings wat oor die jare daar plaasgevind het en geen ag geslaan word op versoeke vir ’n vierrigtingstop of verkeersligte nie.

Besluit oor verkeersbeheer nie plaaslik geneem
Hoewel Baron van Reedestraat ’n munisipale hoofpad is met die munisipaliteit die padowerheid, subsidieer die Wes-Kaapse Departement van Vervoer die instandhouding van die pad en is hulle die beherende gesag.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoer­der van die munisipaliteit, is die pad deur die provinsie geklassifiseer as ’n hoër orde-roete wat me­dium verkeer dra. Verkeer op dié pad moet voorkeur kry en nie aangemoedig word om te stop behalwe vir voetoorgange nie.

Die departement het wel in 2018 op navraag van Die Hoorn aangedui dat hulle aandag skenk aan die veiligheid­situasie in die straat en die talle ongelukke waar ander strate dit kruis, maar dat meer statistiek nodig is oor byvoorbeeld botsings, spoedoortredings en verkeersoptrede om ’n behoorlike verkeersanalise te kan doen.

Die Hoorn beskik nie tans oor inligting of so ’n analise al gedoen is nie. Daar is egter wel glo toestemming verkry vir verkeersligte in Langenhovenweg by die hoek waar ’n winkelsentrum moontlik gebou sal word. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Woede na botsing op berugte hoek"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*