‘Ons wil hande vat’

Bo: Van links is Linda van Rensburg en Hi­mine Bothma saam met van die mense wat hul hande gevat en saam gewerk het om die terrein voor die NA Smit Swembad te verfraai, van links Zou­we Lesia (bestuurder parke en rekreasie), Willem Malgas (toesighouer swembad) en Christiaan McGear (superintendent parke). Foto: Liesel le Roux

Bo: So is daar hard saamgewerk om die terrein buite die swembad in Parkweg te verfraai. Foto verskaf

HULLE glo die oplossing vir ’n dorp soos Oudts­hoorn is dat inwoners hande sal vat met die munisipaliteit en saam sal werk om die dorp beter te maak.

“Ons sê: Kom ons vat mekaar se hande; saam kan ons dinge gedoen kry in Oudtshoorn,” sê Himine Bothma.
Bothma, ’n oud-verpleegkundige en lektor en voor haar aftrede area­bestuurder by PathCare in Bloemfontein, en Linda van Rensburg, ook ’n oud-verpleegkundige wat verskeie bestuursposte be­klee het, het in Augustus 2020 die Vrystaat vir die Klein Karoo verruil en op Oudtshoorn kom aftree.

Sedertdien het hulle op Oudts­hoorn bekend geword as die twee vroue wat Parkweg se bome in die omgewing van Camp Roadhouse begin snoei en die bossies tussen die klippe op die middelmanne uitge­skoffel het.

Daarna het hul vingers nog gejeuk en het hulle ingespring en met die hulp van munisipale werkers ook die gebied voor die NA Smit Swembad ’n gedaanteverwisseling laat ondergaan.

Dié werkery in Parkweg het alles begin by haar liefde vir fietsry wat haar deur dié straat geneem het, vertel Bothma.

Sy het die ongesnoeide bome en die klipeilande oorgroei met bossies gesien en besluit sy gaan daar inspring en skoonmaak.

Sommer op die eerste dag egter het sy besef die werk daar is veel groter as wat sy besef het en het sy Van Rensburg gevra om te kom help.

Sy het by die bestuurder parke en rekreasie, Zouwe Lesia, toestemming gevra om daar te werk en sê sedertdien het sy en Van Rensburg nog net vriendelikheid en ondersteuning van die departement parke en die superintendent, Christiaan McGear, ontvang.

Ook die vriendelike Oudtshoor­niete wat hul groet en met hul gesels as hulle iewers aan die werk is, maak dit vir hulle lekker om op die dorp te woon.

“Ons geaardhede is om nie te kla oor iets as ons nie self iets daaraan doen nie. Dit is die wêreld waaruit ons kom, en as gevolg van die beroepe wat ons gehad het,” verduidelik Van Rensburg.

“As iemand ons sou vra wat is ons droom vir Oudtshoorn, sal dit wees dat inwoners en die munisipaliteit saamwerk, dat ons as ’t ware in een vertrek sit met die munisipaliteit, en as daar hulp nodig is die gemeenskap betrokke sal raak en sal help.”

Vir ’n aftrede wat bestaan uit terugsit en ontspan, sien dié twee vroue duidelik nie kans nie.
Bothma sê onder meer dat sy nog altyd daarvan gehou het om doelwitte na te streef.

“My doel is in elk geval om ’n verskil te maak, en ek glo dit is ons as mense se verantwoordelikheid om ’n verskil te maak op aarde.

“En ek hou van ’n groot uitdaging!” (Deur Liesel le Roux)