Liggaam met steekwonde in pad gevind

’N VYFDE jong man binne ’n maand het Saterdag na ’n skynbaar aggressiewe mesaanval in die Groter Oudtshoorn gesterf.

Nathan Arries (30) se liggaam is volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, Saterdag (27 Maart) in die vroeë oggendure in die pad gevind waar Johan Gelderbloem- en Kiepersolstraat in Smartietown kruis. Sy liggaam het verskeie steekwonde gehad.

Twee mans is die naweek in hegtenis geneem en het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn. Volgens sers Gretchen Michaels, woord- voerder van die Oudtshoorn Polisie, is die beraamde tyd waarop die voorval plaasgevind het, omstreeks 05:40.

Man in tweede aanval met byl gekap
Michaels sê daar was Vrydagaand ook ’n gewelddadige voorval in Smartietown toe ’n man met ’n byl in die gesig gekap is.

Die man en sy vriende was voor die voorval by ’n “pool shop”. Volgens Michaels ondersoek die polisie ’n klagte van poging tot moord.

Gehoorsaam aandklokreël, vra polisie
Die polisie het intussen ’n versoek aan inwoners gerig om die aandklokreël asook die inper­kingsregulasies te gehoorsaam, veral in die lig van die Paasnaweek wat voorlê. Twee van die moorde die voorafgaande maand het plaasgevind binne die tydgleuf wat die aandklokreël geld.

“Daar sal opgetree word teen diegene wat nie gehoor gee nie,” sê Michaels.

Hulle sterf ook aan steekwonde
Die ander vier jong mans wat die voorafgaande maand aan meswonde gesterf het, was:
• Abriel (Fennie) van Wyngard (27): Sondag-oggend 21 Maart omstreeks 02:15 in Lappertstraat, Bridgton;

• Adrian Esau (30): Saterdagaand 20 Maart omstreeks 22:30 voor die “Puff” in Dysselsdorp;

• Heinrich Roman (18): Sondag 7 Maart omstreeks 20:20 in Johansenstraat, Bongolethu;

• Ashrodeen Malgas (26): Saterdag 27 Februarie omstreeks 0:45 op die hoek van 21ste en 9de Laan. (Deur Liesel le Roux)