AfriForum-petisie sê nee vir politieke speletjies in raadsaal

VOLGENS AfriForum se Oudtshoorn-tak is dit keelvol vir die politieke spe­letjies wat in die munisipale raadsaal van Oudtshoorn gespeel word, en wil dié burgerregte-organisasie met ’n petisie aan die Wes-Kaapse rege­ring inwoners se ontevredenheid openbaar maak.

Die tak sê in ’n elektroniese boodskap wat op onder meer selfone versprei word en wat mense nooi om die aanlyn-petisie te steun: “Ons moes weer toekyk hoe onwettige optrede, wat insluit die minagting van ’n hofbevel sowel as die minagting van Artikels 54A, Artikel 56 asook Artikel 60 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, willens en wetens plaasvind vir politieke gewin en vermoedelik vir plundering.

“Voeg jou stem by AfriForum se Oudtshoorn-tak en stuur so ’n boodskap aan die Wes-Kaapse DA-regering. Ons kan die rampokkery nie meer duld nie en eis vinnige en doeltreffende optrede teen diegene wat verantwoordelik is.”

Die aanlyn-petisie is beskikbaar (op selfoon of rekenaar) by afriforum.co.za/ afriforum-se-oudtshoorn-tak-is-keelvol-vir-munisipale-ongerymdhede/

• Die petisie volg op ’n vergadering Maandagaand waarheen AfriForum se Oudtshoorn-tak verskeie belangegroepe asook die gemeenskap genooi het. So­wat 35 mense wat sake- en ge­meen­skaps­­leiers insluit, het dit bygewoon.

Die voormalige burgemeester, Chris Macpherson, is gevra om inligting te verskaf oor die oorname, meningsverskille en “chaos’ in die raad met minder­heids­partye wat die raad oorgeneem het.

Volgens Macpherson het die oorname en swaai van die magbalans binne die raad waarskynlik ten doel om fondse vir hul onderskeie verkiesingsveldtogte te bekom. Beweringe wil dit hê dat soveel as R4,5 miljoen by van die aksies betrokke kan wees.

Dit wil ook voorkom of dieselfde mense wat voorheen hul hande op Oudts­hoorn se geldkas probeer lê het, weer daarby betrokke was.

Johan Conradie, AfriForum Oudtshoorn se takvoorsitter, het in reaksie hierop gesê: “Ons by AfriForum wil ons skok en ongeloof uitspreek met hierdie situasie wat hom afspeel in die raadsaal.

Verder spreek ons ons ongeloof uit oor die onvermoë van die Wes-Kaapse regering om hierdie situasie aan te spreek. Dit is sekerlik deel van die provinsiale regering se mandaat om die gemeenskap te beskerm teen hierdie boewery.

“Ons vereis vinnige en daad­werklike optrede met die doel om hierdie situasies in die toekoms aan bande te lê.”

Gaan trek asb jou kruisie, sê AfriForum
Arno Greyling, AfriForum se distriks­koördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap, het Oudtshoorniete aangemoedig om in groot getalle op 1 November na die stembus te gaan om hul kruisies te trek en hul deel te doen om boewery binne ’n gemeenskap hok te slaan.

“Vir wie jy stem, is jou voorreg om oor te besluit, maar maak doodseker dat die party en kandidaat in belang van Oudtshoorn sal optree en verwerp die­gene wat ’n geskiedenis het van eie­belang en plundery. Daarvan het ons nou genoeg gehad,” het hy bygevoeg.

4 Comments on "AfriForum-petisie sê nee vir politieke speletjies in raadsaal"

  1. Mag ek asb versoek dat mnr Arno Greyling my asb per e-pos kontak, ek/ons huiseienaars het ‘n probleem met die munisipaliteit wat reeds op hoogste vlak aan gespreek is.

  2. Cobus Pretorius | 10/08/2021 at 10:29 |

    Tyd dat kiesers gerespekteer word vir HULLE keuse!

  3. Amada Bosman | 10/08/2021 at 10:29 |

    nee

Comments are closed.