TWEE mans van Oudtshoorn het die naweek bin-ne ure van mekaar op onnatuurlike wyses gesterf, en daardeur minstens twee families van die dorp in rou gedompel is.
Bevon Januarie (34) is laat Saterdagaand in ’n tref-en-trap-voorval in Rossouwstraat, Bridgton oorlede, terwyl Chad Phillip Pass (25) Sondag vroegoggend met ’n mes aangeval is en later aan sy beserings beswyk het.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Januarie Saterdagaand omstreeks 22:10 oorlede nadat hy van agter deur ’n BMW getref is. Hy het op die toneel gesterf.
Visser sê die BMW wat van die ongelukstoneel weggery het, is moontlik wit van kleur, en dat die voertuig se registrasienommer tans onbekend is.
Die Polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.
Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om ao Morné Janse van Rensburg te kontak by sel 082 469 8224 of na hul naaste polisiekantoor te gaan.
Pass, ’n inwoner van Toekomsrus, is volgens Visser omstreeks 03:45 in Asterhof, Bridgton met ’n mes gesteek.
Hy is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hy later oorlede is.
Volgens Visser is die verdagte in hierdie saak sowat vyf ure later, omstreeks 08:35, in hegtenis geneem.
’n Klag van moord word ondersoek. Die rede vir die aanval op Pass is nog onbekend. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Tref-en-trap, messteek eis twee jong lewens
Van links: Bevon Januarie (34).
Foto verskaf en Chad Phillip Pass (25). Foto verskaf