Valke ondersoek klagtes van bedrog by aanstelling van diensverskaffer

DIE Direktoraat vir Prioriteit Misdaadondersoek se Ernstige Handelsmisdaadseenheid op George (die Valke) ondersoek tans klagte van bedrog en verkwiste uitgawes binne die Groter Oudtshoorn Mu­nisipaliteit ten opsigte van die aanstelling van die regsfirma Webber Wentzel as diensverskaffer begin 2020.

Die klagte oor die verkrygingsproses (supply chain management) wat die munisipaliteit gevolg het, vergesel van ’n beëdigde verklaring, is deur die dorp se vorige munisipale bestuurder, Allen Paulse, by die Valke ingedien.

’n Woordvoerder van die Valke, Zinzi Hani, het bevestig dat ’n ondersoek oor die verkrygings-proses gedoen word.

Webber Wentzel is begin 2020 deur die munisipaliteit aangestel om onder meer klagte teen Paulse te ondersoek nadat hy op 28 Januarie deur die raad met spesiale verlof gestuur is.

Die verslag het die munisipaliteit meer as R2,2miljoen gekos en is verlede jaar deur die Ouditeur-Generaal in sy verslag as onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes bestempel.

Verkwiste uitgawes vind plaas wanneer die verpligte stappe wat deur wetgewing voorgeskryf word, nie deur ’n munisipaliteit gevolg word met die aanwysing van ’n diensverskaffer nie.

Volgens Paulse se eedsverklaring moet die ver-krygingsproses om ’n diensverskaffer aan te stel ingevolge wetgewing geskied.

’n Diensverskaffer kan in sekere omstan­dig­hede, soos in ’n noodsituasie, ook aangestel word deur ’n “afwyking” (deviation) kragtens Artikel 36 van die betrokke wet. Dit bepaal onder meer dat die raad by die eerste vergadering ná die afwyking daarvan in kennis gestel moet word dat ’n diensverskaffer so aangestel is.

Dit het egter nie gebeur by raadsvergaderings tussen Januarie en Junie 2020 nie.

In Junie is gepoog om die kwessie voor die raad te bring en is die verkrygingsbestuurder gevra om die afwyking te onderteken, maar het hy geweier omdat dit nie onder sy aandag gebring is toe dit ’n aantal maande vroeër gebeur het nie.

Hierna is ’n terugdatering na Januarie of Februarie op die dokument aangebring wat volgens Paulse se verklaring op bedrog neerkom om doelbewus die raad, Ouditeur-Generaal en die inwo­ners van dorp te mislei.

’n Senior amptenaar by die munisipaliteit se naam word in dié verband genoem. (Deur Liesel le Roux)