’N 48-JARIGE vrou het verlede Vrydag (1 Oktober) in die Ladismith Landdroshof verskyn nadat dwelms met ’n straatwaarde van R75 000 in haar besit gevind is.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is 980 Mandrax-tablette en 611 bankies tik Woensdag (29 September) versteek gevind binne vier 2,5 kg-sakkies witbroodmeel.
Spies sê polisiebeamptes van die Ladismith Misdaadvoorkomingseenheid en Oudtshoorn Misdaadintelligensie het Woensdag omstreeks 16:30 ’n minibus-taxi op die R62 naby Ladismith gestop nadat hulle sekere inligting ontvang het.
Die taxi is deurgesoek waarna die witbroodmeel binne die vrou se bagasie gevind is. Die Polisie het op die dwelms beslag gelê en die vrou in hegtenis geneem op ’n klag van handel in dwelms.
Spies sê voorlopige inligting dui daarop dat die taxi op pad was van Kaapstad en dat die dwelms bestem was vir die Klein Karoo. (Deur Liesel le Roux)
Vrou in hof vir R75 000 se dwelms in witbroodmeel
Die broodmeel waarin die dwelms gevind is.