Freda Barnard-swemgala leef voort

Kenzy in baan 6 tydens die gala. Foto onder: Freda Barnard (links) en haar kleinkinders wat aan die gala deelgeneem het wat sy meer as 40 jaar terug begin het; Kenzy Barnard en Christiaan van Biljon. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

DIE Freda Barnard-swemgala is die naweek vir die 40ste keer in Oudtshoorn aangebied, met 580 swemmers van 52 swemklubs van regoor Suid-Afrika wat kom deelneem het.

Wat vanjaar se weergawe van die gala soveel meer spesiaal gemaak het, is die feit dat die stigterslid en plaaslike legende, Freda Barnard (83), self teenwoordig was om haar kleinkinders Kenzy Barnard en Christiaan van Biljon te ondersteun.

Barnard vertel dat die gala reeds langer as 40 jaar bestaan, voorheen as die Oudtshoorn Uitnodigings-gala, waar swemmers van regoor die Tuinroete kom deelneem het. “Dit is wonderlik dat dit nog steeds bestaan, want die oorspronklike doel van die gala was om swem aan kinders voor te stel, en om vir almal ’n kans te gee om deel te neem.

Ek kan nie glo hy het so groot uitgedraai nie, dit is vir my die grootste geskenk wat die Here vir my kon gee.

Ek voel baie klein, dit is net genade.” (Deur Stefan Skapie Goosen)