’N 28-jarige man van Oudtshoorn wat op 22 Januarie vanjaar Ronald van Wyngaardt van sy rugsak met sigarette, ’n selfoon en R6 kontant beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof 12 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Ashwin Swarts sê in sy pleitverduideliking dat hy die betrokke dag in Kerkstraat gestap en die rugsak van Van Wyngaardt gegryp en weggehardloop het.
Hy het onskuldig gepleit op die klagte van roof, maar skuldig aan diefstal en ontken dat hy die klaer met ’n mes gedreig het.
Sy weergawe is egter deur die hof verwerp.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Swarts nie ’n eerste oortreder is nie en in 2015 aan ’n soortgelyke misdaad skuldig bevind en sewe jaar tronkstraf opgelê is.
Hy het toe ook ontken dat hy iemand met ’n mes gedreig en beroof het. Hy is op parool vrygelaat voordat hy twee jaar van sy vonnis uitgedien het.
Streeklanddros Sylvia Mandla het afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar omdat die klaer nie beserings opgedoen het nie, en al sy besittings teruggevind is. (Deur Garnett Wicomb)
12 jaar tronkstraf vir roof van R6, rugsak en selfoon
