Christo Wiese se Grootvoël Boereorkes

Ontmoet die orkeste wat gaan speel:
CHRISTO WIESE en die Grootvoël Boereorkes is die finale groep musikante wat vandeesweek voor die 2022 Grootvoël Boeremusiekfees afskop aan boeremusiekliefhebbers voorgestel word.

Die fees vind die naweek van 23 en 24 September by die Hoërskool Oudtshoorn plaas.

“Die orkes bestaan uit Namakwalanders, en daarom verstaan ons boeremusiek,” skerts Wiese. “Ons is nie ’n gevestigde orkes nie, maar ons speel by geleenthede saam en omdat ons so ver van mekaar is, gebeur dit nie gereeld nie,” vertel hy.

Volgens Wiese het hierdie groep musikante se paaie al almal in ’n stadium met dié van die beken-de musikant wyle Oom Willie Nelson gekruis.

Wiese is van Alexanderbaai afkomstig. “Omdat my hele familie musiekante was, het ek dit ingekry saam met my kos! Ek was jare-lank deel van die Sandvelders, en speel trekklavier, bietjie konsertina en kitaar.”

Die res van die Grootvoël Boereorkes is:
Nico Smit, ’n baie goeie vriend van Wiese. Hulle maak al jare saam musiek, ook as deel van die Sandvelders. Hy speel die kitaar en die banjo.

Hannes Mostert kom uit die Boesmanland en het ’n lang geskiedenis met boeremusiek. “Julle moet hom dus maar by die fees uitvra oor sy boeremusiek, want hy het ’n baie interessante stories,” sê Wiese en voeg by dat hy reeds op skool hy saam met Mostert musiek gemaak het. Mostert self die konsertina, trekklavier en kitaar.

Gustav Trautman, die jong man in die orkes, het met boeremusiek grootgeword. Hy het nie ’n keuse gehad nie, sê Wiese, “want dis my suster se seun. Dit is dus al wat hy gehoor het!”

Trautman het kitaar-lesse op skool geneem, en later ’n banjo gekry en dié ook gou geleer speel.
Lukie Mostert is ook ’n Namakwalander en hy speel van kleins af kitaar. “Hulle was ’n musikale gesin en sy pa was die trekklavierspeler vir Oom Willie. Lukie het al saam met baie orkeste gespeel, soos die Namakwakalanders en die Kaap-land-orkes.” Mostert speel kitaar vir die Grootvoël Boereorkes.

Koop vandag nog jul kaartjies vir die 2022 Grootvoël Boeremusiekfees, geborg deur TFASA en Radio Namakwaland 93.4fm. Naweekkaartjies kos R140 en dagkaartjies slegs R80.

Gaan volg die fees op Facebook of kontak Brian Nieuwoudt by 082 322 7526, of Christo Wiese by 083 453 2806 vir verdere navrae.