Sy liefde vir motors strek oor meer as ’n halwe eeu…

Die groot motorliefhebber Pieter Retief in sy studeerkamer. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

Jakob Konstabel, Retief se regterhand, wat deesdae net so ’n groot motorliefhebber is, by Retief se 1956 International.

Verskeie voertuie wat tans in Retief se motorhuis staan.

Die oudste voertuig in Retief se versameling outydse motors is dié 1933 Austin wat nog in ’n ryende toestand is.

Die ligblou Renault wat Retief die afgelope naweek by sy versameling klassieke motors gevoeg het

SY liefde vir voertuie het oor ’n tydperk van langer as ’n halfeeu nie net gegroei nie, maar in dieselfde tyd het hy meer as 150 ou voertuie besit. Hy gesels graag oor hierdie voertuie, en sy passie daarvoor word al hoe duideliker, hoe langer jy met hom gesels.

Ontmoet vir Pieter Retief (79), oor dekades die eienaar van verskeie besighede op Oudtshoorn, tans die eienaar van Adley House in Jan van Riebeeckweg, en ook die trotse eienaar van agt unieke klassieke voer­tuie. Hy het onlangs ’n meer as 30-jaar oue droom vervul toe hy ’n 1956 International ses-silinderbakkie – soos wat sy pa dekades gelede besit het – en ook ’n 1957 Renault 4CV, ’n gesogte voertuig wat hy self in sy jonger dae gery het, aangekoop het.

Retief se voorliefde vir motors het in sy kinderdae begin. Hy is in die Paarl gebore, het skoolgegaan aan Paarl Boys High, en in standerd 6 sy eerste voertuig aangekoop; ’n 1947 Austin 10!

Hy vertel hy het reeds as 10-jarige begin bestuur, en die Austin vir 10 pond gekoop.

“Ek was van jongs af ’n entrepreneur. Ek het groente geplant en verkoop, en skoolvakansies gewerk. Dit is hoe ek my eerste kar gekoop het. Hy het in ’n ongeluk gerol voordat ek hom gekoop het, en ek het hom probeer regmaak, maar ek kon nie die bak regkry nie. Ek het baie hard probeer, maar ek kon nie. Die enjin en so aan was darem nog in ’n baie goeie kondisie, en in standerd 8 toe koop ek weer een,” vertel hy nostalgies.

Sy tweede Austin 10 se bakwerk was mooi, maar die enjin was tot niet, en volgens Retief het hy die voertuig self heeltemal oorgedoen, reggemaak, gespuitverf en uiteindelik in matriek, ná sy laaste eksamen, die voertuig laat lisensieer.

Hy het homself geleer hoe om voertuie reg te maak, met die hulp van ’n man wat hy by ’n ­skrootwerf ontmoet het. Hy onthou hoe hy as 10-jarige na die skrootwerf gegaan het om te leer hoe om aan voertuie te werk. “Die passie het van daar af al erger geraak,” vertel hy.

Ná sy grootwordjare is hy soos baie jong mans van sy ouderdom na die myne in Welkom waar hy talle mynverwante, meganiese ingenieurskwalifikasies verwerf het. Hy was uiteindelik ’n skofbaas by ’n goudmyn.

Hy het in 1967 Oudtshoorn toe verhuis, en ’n gebou net buite Oudtshoorn, by die huidige Caves Aftreeoord, gehuur. Bekend as die Caves Motel, het hy dié instansie vir die volgende 10 jaar bestuur.

In dieselfde tydperk het hy baie hard gewerk, sê hy, en hy het talle ander besighede besit en bestuur, onder meer ’n motorherstelwerkbesigheid. Hy het ook by die Oudtshoorn Motorklub aangesluit en was vir onderskeidelik 10 jaar ovaalbaankampioen en 13 jaar klubpresident.

Al sy huidige voertuie, en ook dié wat hy reeds verkoop het, was so na aan “standaard” as moontlik, sê Retief. Die International wat hy onlangs aangekoop het, het sy pa destyds vir 800 pond gekoop, met ’n bykomstige “roukoop” van 200 pond. Sy pa moes twaalf maande daarvoor wag, onthou hy met heimwee. Nou besit hy ook een, presies soos die bakkie wat sy pa bestuur het – die enigste een in die Paarl daardie tyd en nou die enigste een in die Klein Karoo. Hy het dit ná ’n soektog van langer as 30 jaar by ’n goeie vriend op Groot Brak opgespoor. Hierdie einste vriend besit meer as 100 klassieke voertuie.

Die afgelope naweek het hy ’n Renault by sy Oudtshoorn-versameling gevoeg.

Oor die jare heen het hy onder meer ’n 1971 Cadillac Eldorado Convertible, die enigste van sy soort in die land, besit. “Dit was darem ’n groot kar, ’n landskip,” vertel hy.

Sy voertuie speel steeds ’n baie groot rol in sy lewe. Retief sê sommige gaste wat by sy gastehuis oorbly, verkyk hulle aan die voertuie wat daar staan, en gesels graag met hom daaroor. Sommige gaste kom spesifiek vir die voertuie.

Al kan hy nie meer self bestuur nie weens ’n ongeluk van jare gelede, het sy liefde vir motors glad nie gekwyn nie. Hy kyk graag F1-motorsport, en sê as ’n voertuig sy oog vang, hy nou nog daaraan sal dink om dit aan te koop, al moet die aankope nou begin minder raak.

Die oudste voertuig wat hy besit, is ’n 1933 Austin 7 wat steeds loop, nes die res van sy versameling.

Hy maak sover moontlik van plaaslike motor-werktuigkundiges gebruik om sy ­voertuie in stand te hou en te restoureer.
Jakob Konstabel, Retief se regterhand, werk al 32 jaar vir hom en maak seker sy voertuie is skoon en in ’n goeie toestand.

Konstabel vertel dat hy aanvanklik nooit lief was vir voertuie nie, maar dat sy liefde vir hulle oor die jare heen net so groot soos Retief s’n geraak het. (Deur Stefan Skapie Goosen)