DIE top 23-finaliste vir die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar vir 2021 is deur die SA Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) bekend gemaak.
Benewens die kroon vir die algehele wenner, kom die finaliste ook in aanmerking vir nege ander kategorieë, naamlik Budget, Compact, Compact Family, Family, Premium, Performance, New Energy, Adventure SUV en Double Cab.
Die mededingendste kategorie is die kompakte gesinsmotor met ses finaliste, die Hyundai Creta, die Kia Seltos, die Mazda CX-30, die Peugeot 2008, die Toyota Corolla Sedan en die Volkswagen T-Roc.
In die kategorie vir bekostigbare motors sal die Hyundai Grand i10, Suzuki S-Presso en die Toyota Starlet mekaar opdreun. Wat die kompakte motorkategorie betref, ding die Hyundai Venue mee met die Opel Corsa en die Suzuki Vitara Brezza.
In die kategorie vir gesinsvoertuie is die gewilde Volkswagen Caravelle ’n interessante insluiting.
Hyundai en Toyota het elk vier modelle op die lys van finaliste. Mercedes-Benz, Porsche en Suzuki het elk twee finaliste en die Audi, BMW, Kia, Land Rover, Opel, Peugeot elk een finalis.
Die finaliste in alfabetiese volgorde is:
• Audi A4 Family
• BMW 4-series Premium
• Hyundai Grand i10 Budget
• Hyundai Venue Compact
• Hyundai i30 N Performance
• Hyundai Creta Compact Family
• Kia Seltos Compact Family
• Land Rover Defender 110 Adventure SUV
• Mazda CX-30 Compact Family
• Mercedes-Benz E-Class Premium
• Mercedes-Benz GLA Family
• Opel Corsa Compact
• Peugeot 2008 SUV Compact Family
• Porsche Taycan New Energy
• Porsche 911 Turbo S Performance
• Suzuki Vitara Brezza Compact
• Suzuki S-Presso Budget
• Toyota Corolla Sedan XS/XR Compact Family
• Toyota Starlet Budget
• Toyota Hilux Double Cab
• Toyota Land Cruiser Prado Adventure SUV
• Volkswagen T-Roc Compact Family
• Volkswagen Caravelle Family
Die Motor van die Jaar-komitee is baie opgewonde oor die verskeidenheid van voertuie wat dit na die finale ronde gemaak het. ’n Groot uitdaging lê vir die paneel van kundige beoordelaars van die SAGMJ voor om die wenners te kies.
Die finale ronde van beoordeling begin binne-kort en sal voortduur tot 11 Junie. Daar sal aan elke finalisvoertuig punte toegeken word op grond van ’n wye verskeidenheid kenmerke. Met dié ronde sal faktore gegrond op verkoopsyfers ook in ag geneem word.
Die SAGMJ en die Motor van die Jaar-komitee sal die kategoriewenners en die Algehele Wenner op 26 June 2021 bekend maak.
Finaliste bekend vir Motor van die Jaar 2021
