Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Blomnek, De Rust, wat sy voormalige meisie en ma van een van sy ses kinders met ’n halwe baksteen in die gesig gegooi het, is in die Oudtshoorn Streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Reagan Makoma (26) is vroeër vrygespreek op klagtes van menseroof en verkragting, nadat die hof bevind het dat getuienis daarop dui dat hy nie die vrou van haar vryheid ontneem het nie en sy vrywillig saam met hom na die begraafplaas gestap het, waar hulle met instemming gemeenskap gehad het.
Makoma is egter skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer deur haar op 9 November 2011 met die halwe baksteen te gooi, asook aan gewone aanranding deurdat hy haar op 29 Julie 2017 geklap en gestamp het.
Makoma het volgens die staatsaanklaer, Nadia le Roux, ten spyte van verdoemende getuienis teen hom steeds onskuldig gepleit. Sy het daarop gewys dat hy aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.
“Dit kan nie ligtelik hanteer word nie omdat die beskuldigde ’n rekord van geweld agter sy naam het. Gesinsgeweld kom te gereeld in die hof se bedieningsgebeid voor en dit is veral vroue en kinders wat die ergste ly, “ het Le Roux gesê.
Oor die feit dat Makoma lank in aanhouding was, het sy gesê dat dit sy eie toedoen is. Die saak van 2011 is teruggetrek, maar hy het weer misdaad gaan pleeg.
Makoma se regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof gevra om na die groter prentjie te kyk.
“Die beskuldigde en die klaagster het ’n stormagtige verhouding gehad. Hulle het gereeld baklei en hy is al met ’n gebreekte bottelkop gesteek.”
Makoma is tevore al onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit wil voorkom asof Makoma ’n obsessie het om aan te rand. “Die vrou moes vier steke vir die wond net onder haar linkeroog kry en die merk is steeds sigbaar en dus blywend. Hy toon geen berou nie en kan kastig nie onthou nie.
“Die hof moet seker maak dat die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie en dat ernstige misdrywe gepas gestraf word.
“Dit was ’n sinnelose aanranding wat met misnoë deur die gemeenskap bejeën word. Vorige vonnisse het nie die no- dige uitwerking gehad nie. Enige ander vonnis behalwe direkte gevangenisstraf sal onvanpas wees.”
Boks het wel die tydperk in aanhouding in aanmerking geneem en Makoma op die klagte van ernstige aanranding tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis asook 24 maande vir aanranding gewoon. Die vonnisse kan samelopend uitgedien word.