Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen Denovan Abrahams van Bergsig, Calitzdorp, wat glo drie skote op ’n man afgevuur het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor uitgestel.
Abrahams staan tereg op ’n klagte van poging tot moord deurdat hy glo die aand van 9 Junie 2017 vir Francois Tok raakgeskiet het. Hy pleit onskuldig op die hoofklag, maar skuldig op ’n alternatiewe klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy pleitverduideliking is nie deur die staat aanvaar nie.
Volgens Tok is hy in die linkerrib en -arm getref waarna Abrahams weggehardloop het.
Abrahams voer aan dat dit nie hy was wat die sneller getrek het nie, maar ’n vriend, ene Linton.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir die skuldigbevinding van Abrahams gevra. Hy is bekend aan die klaer en is aan sy stem uitgeken.
“Die beskuldigde en die klaer is nie vreemdes nie en sy weergawe behoort verwerp te word. Hy het ook besluit om nie te getuig nie,” het Goulding gesê.
Eugene Roos, wat in opdrag van die regshulpraad vir Abrahams verskyn het, betoog dat die getuies sowel as Tok nie die skieter kon identifiseer nie omdat sy gesig bedek en net sy oë sigbaar was.
Daar is ook ’n geskil oor die klere wat die beskuldigde die betrokke aand aangehad het.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir verdere verhoor tot 16 Julie uitgestel.