Oudtshoorn-dokter skryf vir kinders oor Corona-virus

Dr Wessel Vermeulen (onder) se kinderboek, Die stoute Corona, wat tans gedruk word.

HY het die kinderboek Die stoute Corona, as ’n oupa vir sy kleinkinders geskryf nadat hy hulle bang ogies gesien en gehoor het wat hulle saans bid, vertel dr Wessel Vermeulen, ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn.

Vermeulen sê hy het deur sy kleinkinders bewus daarvan geword dat kinders vrese en vrae het oor die virus en daar en dan besluit om vir hulle ’n storie te skryf.

Dié storie gaan nou in Afrikaans en Engels in boekvorm gepubliseer word. Dit word tans gedruk en behoort volgende week beskikbaar te wees.

Volgens hom kan jy deesdae sien hoe kinders se ogies verdof en hoe swaar dit vir hulle is om dinge soos ’n verjaardagpartytjie prys te gee.

“Ek het binne ’n paar weke drie kinders in my spreekkamer met maagsere gesien, en dit is iets wat nie voorheen gebeur het nie. Daar is groot spanning by kinders.”

Sy boodskap in die boek is dat kinders nie bang moet wees nie. “Moenie bang wees nie. Mamma en Pappa en al die grootmense sal mooi na julle kyk en alles sal regkom. Julle moet net lief wees vir ander mense en help dié wat swaarkry en nie kos en huise het nie.”

Hy lig kinders in oor die virus, en verduidelik hoe om dit te beveg.
Die illustrasies en uitleg is deur Ronell Lareman, kunstenaar en onderwyser by die Hoërskool Oudtshoorn, gedoen.

Vermeulen sê ’n aanvanklike 500 boekies word tans gedruk met behulp van donasies. Met die geld van verkope sal nog boekies gedruk kan word.

Die boek sal ook gratis deur die SA Mediese Vereniging versprei word.

“As die behoefte daar is, sal die boekie ook in Xhosa vertaal word.

“Enige wins wat dalk gemaak word, sal vir instansies soos kinderhuise en ouetehuise geskenk word.”

• Die stoute Corona kos R30 per eksemplaar. Enige instansie wat 50 of meer boeke koop of versprei kan dit teen R20 per boek aankoop.

Mense wat solank boekies wil bespreek, kan die woord Corona en hul naam en van en hoeveelheid WhatsApp na 072 191 4367. (Deur Liesel le Roux)