Aangrypende gedig bekroon

Hannes Visser. Foto verskaf

’N BESONDERSE gedig deur die Oudtshoorniet Hannes Visser het verlede week vir hom die derde prys uit meer as 3 000 Afrikaanse inskrywings in Avbob se nasionale poësiekompetisie vir 2020 besorg.

Hannes, die redakteur van die Oudtshoorn Cou­rant, het dié prestasie behaal met ’n gedig wat hy verlede jaar op sy eie verjaarsdag vir sy pa geskryf het – Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967).

Die jaarlikse Avbob-poësiekompetisie, wat in 2017 geloods is, aanvaar inskrywings in al 11 amptelike tale. Vanjaar se wenners is Donderdag­aand (6 Augustus 2020) virtueel bekend gemaak. Die wenner van die Afrikaanse afdeling was ­Ma­retha Maartens.

“Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is,” sê Hannes.

“Ons almal lees poësie om persoonlike redes. Vir mý lê die waarde van digkuns daarin dat die leser met die minimum woorde ’n volledige prentjie kry – dit stimuleer die verbeelding en bied nie alles op ’n skinkbord nie.”

Sy digbundel, Die jaar toe pa, het verlede jaar by die uitgewer Naledi verskyn. Van sy gedigte is in verskeie bundels opgeneem, terwyl hy al met talle pryse in skrywerskompetisies weggeloop het. (Deur Liesel le Roux)
Hier is Hannes se aangrypende gedig:

Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)

pa, ek verjaar vandag, twee en sestig jaar nadat
jy my geboortehuis in curriestraat gekoop het
en twee en vyftig jaar nadat hulle jou daardie
Woensdagnag op ’n wit trollie uitgehaas het

ek het nog een foto van die huis met sy bont
stoeptralies en hekke van gekrulde yster wat jy
oor naweke op die myn gesweis het, maar die
swart en wit versteek die helder kleure van toe

ek kan bladsye vol gedigte skryf oor jou, maar
sukkel my dood om te onthou hoe jy lyk, want ma
het mos met haar tweede keer in die waan van trou
teatraal een Saterdag vuur gemaak met alles van jou

ja, ek verjaar vandag twee en vyftig jaar nadat jy
by jou stoeptralies en ysterhekke verby en onder
flitsende rooi ligte onomkeerbaar verdwyn het en
elke jaar is daar meer en meer wat ek jou nog wou vra