Kersgeskenke – help met ongebruikte speelgoed!

INWONERS van die Groter Oudtshoorn word genooi om enige speelding by hul huise wat nie meer gebruik word nie, te skenk vir ’n projek wat vanjaar Kersgeskenke wil gee vir kinders wat ­andersins as gevolg van huidige ekonomiese omstandighede nie ’n geskenk sal kry nie.

Dié projek is verlede week begin deur die oud-speaker van die Oudtshoorn-raad, Japie Coetzee, en staan bekend as Toy for Joy.

Coetzee sê hy het die afgelope week al ’n eerste skenking vir die projek ontvang en is baie dank­baar daaroor. “Ek wil ’n beroep op die gemeenskap doen om alle speelgoed wat nie meer gebruik word nie, vir die projek te gee. Ek sal dit weer mooi maak en op Kersdag aan kinders gee wat nie ’n speelding van Kersvader gaan kry nie.”

Die Hoorn ondersteun graag die projek. Speelgoed kan afgegee word by Super Carwash by die Queen’s Mall of by Coetzee se huis in Rousseau­straat 20. Hy is ook bereid om speelgoed te gaan oplaai. Sy kontaknommer is 082 598 7273. (Deur Liesel le Roux)