Covid-opnames styg, 31 sterftes op Oudtshoorn

Toue buite die Oudtshoorn Poskantoor het Dinsdag 11 Augustus uit Kerkstraat, tot in Hoogstraat, en om die draai na St Saviourstraat gestrek.
Foto: Heinrich Bosman

OUDTSHOORN se Covid-19-dodetal het teen Dinsdag 11 Augustus op 31 gestaan, en het die totale aantal positiewe gevalle in die dorp tot dusver teen Woensdag 12 Augustus tot 778 gestyg. 441 mense het reeds herstel.

Die dorp se burgemeester, Chris Macpherson, het intussen die week in ’n persverklaring gesê dat Oudtshoorn en Mosselbaai se infeksie-syfers tans die vinnigste in die Tuinroete-distrik klim. (Berig – “Nuwe leiers wil stabiliteit bring”)

Volgens dr Charles Dreyer, mediese dienste-bestuurder van die Oudtshoorn-subdistrik waaronder die Oudtshoorn Hospitaal val, is daar ’n tans ’n besliste toename in toelatings van Covid-gevalle by die hospitaal.

Dreyer het Dinsdag gesê dat die hospitaal tussen 40 en 70 toetse per dag uitvoer. 55% van mense wat positief getoets is, het reeds herstel, het hy bygevoeg.

“Ons Covid-eenheid is nie vol nie. Bedbesetting is baie dinamies, en het toegeneem van minder as 40% na tussen 70% tot 85%, maar die situasie is steeds onder beheer.”

Hannes Stegmann, bestuurder van die Medi­clinic Klein Karoo, het gesê dat daar tot dusver slegs een Covid-19-sterfte daar aangeteken is. “Die pasiënt het ’n brein-tumor gehad.”

Volgens Stegmann is daar die afgelope maand 320 pasiënte getoets by Mediclinic se Covid-toetsstasie, met 125 (39%) wat positief was.

“Hiervan is 60 pasiënte (48%) in die hospitaal opgeneem vir behandeling.

Ons pasiënte benodig nie om geventileer te word nie. Al ons Covid-pasiënte kry suurstof as deel van die behandelingsplan en herstel goed,” het hy bygevoeg.

Stegmann het gesê die Mediclinic se Covid-saal is besig, “maar ons het voldoende vaardige perso­neel en voldoende persoonlike beskermende toe­rusting, en daarom kan ons die publiek gerus stel dat alles onder beheer is.”
Daar word by Mediclinic ook steeds ’n skeiding gemaak tussen hul Covid- en nie-Covid-afdelings, en hulle pas streng maatreëls toe om pasiënte en personeel veilig te hou.

Die woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Ntobeko Mangwengqwe, het die week namens die munisipaliteit kommer oor die stygende syfers in die munisipale gebied uitgespreek.

Mangqwengqwe het Dinsdag gereageer op die lang toue mense buite die Oudtshoorn Poskantoor waar Oudtshoorniete – talle sonder maskers of die handhawing van sosiale afstand – gestaan en wag het om hul spesiale maatskaplike noodtoelaag van R350 te ontvang.

“Sommige mense dra nie maskers nie en die sosiale afstand is baie swak gehandhaaf. Munisipale wetstoepassers en die SAPD hanteer die situasie, maar hulle kan ongelukkig nie die hele tyd daar bly nie,” het hy Dinsdag gesê.

Volgens Mangqwengqwe is die bevestigde Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn besig om drasties toe te neem, en hy het beklemtoon dat die Tuinroete amptelik as ’n brandpunt verklaar is.

“Ons vra die publiek om asseblief te voldoen aan die regulasies. Dit is nodig vir die hele gemeenskap se veiligheid.” (Deur Stefan Skapie Goosen)