Drie sterf toe motor rol

Johnathan Abrahams (37), Ernest Oktober (28) en Zachery Mashella (40) wat Maandag in ’n ongeluk 5 km buite Oudtshoorn op die De Rust-pad gesterf het. (Foto’s Facebook)

DRIE mans van Oudtshoorn het Maandag (10 Augustus 2020) gesterf nadat ’n blou BMW X5 sowat 5 km buite Oudtshoorn op die De Rust-pad die pad verlaat en gerol het.

Johnathan Abrahams (37), Ernest Oktober (28), en Zachery Mashella (40) is op die toneel dood verklaar.

“Die voertuig het die pad verlaat nadat die bestuurder beheer verloor het,” het kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, gesê.

Die voertuig was volgens hom van De Rust na Oudtshoorn op pad toe die ongeluk plaasgevind het.

Nog twee mans wat in die voertuig was, Ivan Coetzee en Jamaine Windvogel – is volgens Visser met ernstige beserings hospitaal toe geneem.

Die Hoorn het verneem dat Ivan Dinsdag uit die hospitaal ontslaan is.
Volgens Visser het die ongeluk omstreeks 11:13 plaasgevind en ondersoek die polisie ’n klag van strafbare manslag.

Inwoners het op sosiale media met groot hartseer op die mans se dood gereageer.

Party het vertel dat hulle van die mans nog vroeër dié Maandag gesien het.
Michelle Marlene Prins skryf oor Johnathan, ook bekend as Tupac: “Ons harte is vandag stuk­kend. Jy was vir baie jare deel van ons. Jy het nie net mame en pape se seun kom word nie, maar ’n broer vir ons almal. Ons sal altyd lief wees vir jou my broer. RIP my liefste broer.”

Barry Horne skryf oor Ernest: “Ek het nie meer woorde nie. Ons sal jou onthou as ’n vriend duisend maal. Jy was na aan almal se harte. Rus in vrede, Ernest Oktober. Die Oudtshoorn Taxi Rank sê tot siens. Soveel trane van ’n moeder.”

Daar is Dinsdag ook hulde aan Ernest, wat op ’n taxi ge­werk het, by die Oudtshoorn Taxistaanplek gebring, met ’n roudiens wat Woensdagaand deur taxi-eienaars vir hom gehou is.

Mohammad Oza, Zachery se werkgewer by die Oudtshoorn Inn, sê dat Zachery ’n harde werker en ’n baie goeie mens was.

“Ek het hom nooit enig iets verkeerd sien doen nie; ek kan niks sleg oor Zachery sê nie. Almal by die hotel was lief vir hom, en sal hom mis,” het hy bygevoeg.

’n Video van die ongelukstoneel wat op sosiale media versprei is, het intussen groot woede en afsku ontlok, veral omdat van die mans wat in die veld lê gefotografeer is.

Dit is nie tans bekend wie die video gemaak het nie.

Op die Facebook-blad Oudtshoorniete Staan Saam skryf Colin Gelderbloem: “As diegene wat die video al gesien het van die ongelukstoneel, wat daai vuilgoed gemaak het, en dalk hulle stemme herken in die video, kan u na vore kom en met die SAPD in verbinding tree coz hulle word gesoek.”

Nicolaas de Villiers skryf: “Dit was nie mooi van hulle om daai video te maak nie. Hoekom het hulle nie liewer gehelp nie. Vra maar net.”
Flerencia Ferlicia Abrahams skryf: “Ek het siek gevoel, ek het dit onmiddelik delete. Hoe kan mense voel om van so ’n tragiese gebeurtenis ’n video te maak.” (Deur Stefan Skapie Goosen)