Vlamme lê huisies en motor in puin

’N VOORMALIGE polisiekaptein is in ’n geïnduseerde koma in die George Hospitaal nadat ’n vernietigende brand Sondag (9 Augustus) in die vroeë og­gendure by die Cango Re­treat Ou Tol in Schoemanspoort buite Oudts­hoorn uitgebreek het.

Drie houthuise en ’n motor van een van die gaste by dié vakansieplaas is in puin gelê terwyl ’n vierde huis erg beskadig is. “Net drie van ons sewe vakansiehuise is oor,” sê Mariska Dreyer van Cango Retreat.

Volgens haar het die motor omstreeks 01:30 aan die brand geslaan nadat ’n sterk rukwind op­ge­kom het. Die vermoede is dat die wind dalk ’n braaivleisvuur laat op­vlam het.

“Toe was dit nag en het van die huise ook begin brand.”

Mariska sê hulle is deur die geraas van hul voëls en honde wakker ge-maak en het dadelik die brandweer, polisie en ambulans ontbied.

Die gaste kon almal daarin geslaag om betyds uit hul huise te kom, maar Dolly Subramoney-Hodgson (53), voor­malige polisiekaptein en -woord­­voerder van George, het 40%-brandwonde opgedoen terwyl sy en twee vriendinne uit hul huis gevlug het.

Volgens Mariska wou die vroue by die voordeur uit vlug, maar het vlam­me die huis binnegeskiet toe hulle die voordeur oopmaak. Een van die vriendinne het daarop ’n glasvenster gebreek waardeur hulle ontsnap het.
Subramoney-Hodgson wat tans as eiendomsagent werk nadat sy in 2015 uit die SAPD bedank het, word in die waakeenheid van die George Hospitaal behandel. Volgens haar seun Delaney, is sy ma en haar vriende aanvanklik na die Oudts­hoorn Hospitaal gebring en is sy omstreeks 03:00 weens die erns van haar brandwonde na George oorgeplaas.

Haar vriendinne het snywonde op­gedoen van die glas wat gebreek is.
“Ons is dankbaar dat sy oorleef het, maar dit is moeilik dat ons haar as gevolg van Covid-19 nie mag sien nie. Volgens dokters sal sy vol­kome herstel, maar sal dit tyd neem,” het Delaney vertel.

“Sy is aan ’n ventilator gekoppel omdat haar lugweë geswel is weens die rook en hitte. Sy moet ook Donderdag teruggaan teater toe sodat dokters kan seker maak haar bloedsirkulasie is reg en dat daar nie enige brandwonde is wat verder aandag moet kry nie.”

• Mariska het vandeesweek vertel haar pa wat in 2017 oorlede is, Elmar Dreyer, en haar ma, Kalinka, het Can­go Retreat in 2015 gekoop. “My pa het gesê die plek is ’n paradys en ons kan dit nie net vir onsself hou nie. Toe het hy begin om die plek te ont­wikkel. Dit was sy droom.”

Sondag se brand was vir hulle ’n groot terugslag, sê sy. “Daar is egter baie om voor dankbaar te wees.”

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen gemene spel vermoed nie en word geen saak deur die Polisie ondersoek nie. (Deur Liesel le Roux)