Veghond val Oudtshoorn Skut se Magda Davel aan

Hemp stukkend gebyt ’n Bebloede Magda Davel van die Oudts­hoorn Diereskut en Colleen Coetzee van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), Dinsdagmiddag, nadat hulle deur ’n veghond in Hugenootstraat aangeval is. Hoewel Magda vriendelik op die foto geglimlag het, sê sy dat sy die aand toe sy gaan slaap het steeds die hond wat na haar byt voor haar gesien het. Foto: Angelique Erasmus

“ONS kan gelukkig wees dat ons nog lewe en nie slegter daarvan afgekom het nie,” sê Magda Davel (50) van die Oudts­hoorn Diereskut, nadat sy en Colleen Coetzee (58) van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) Dinsdagmiddag deur ’n veghond op Oudtshoorn aangeval is.

Magda en Colleen is Dinsdag na Hu­genootstraat nadat hulle ’n klagte ontvang het dat ’n veghond in die straat rondloop.

’n Vorige keer toe hulle na dieselfde adres ontbied is, was die hond volgens Magda glad nie aggressief teenoor hulle nie. “Ons het die eienaar versoek om haar te laat steriliseer, maar met ons besoek Dinsdag het ons tekens gesien dat sy weer kleintjies het.”

Magda sê die hond soek vermoedelik na kos, want sy is baie maer en kan deur die pallisadeheining klim.

“Ons het by die voordeur gestaan en klop toe die hond ewe skielik aangehardloop gekom het, en na ons begin byt het.

“Ek het geskop soveel soos wat ek kon, maar sy het nie opgehou nie.” Sy het ’n krat met hout by die deur opgetel en die stukke hout na die hond begin gooi, en sy en Coleen kon sodoende al nader aan die hek begin beweeg, en by die hek uitkom.

Coleen wat agter Magda gaan staan het toe die hond aanval, is nie raakgebyt nie.

Hulle is bekommerd oor die hond, sê Magda. “Die eienaar het reeds op 29 Januarie ’n klagte ontvang oor die hond, maar tot datum het nog niks gebeur nie.”

Sy sê gelukkig het ’n reunhond in die voortuin wat ook aggressief begin blaf het, haar nie ook aangeval nie.

Sy beoog om ’n klag te gaan indien teen die eienaar van die hond, maar is onseker of iets daarvan sal kom. “Hier bly baie mense. Wat as daardie hond uitkom en ’n kind of ander dier aanval? Hulle sal nie ’n kans teen haar staan nie.”

Die Hoorn het in 2018 met George van Huysteen, ’n dieregedragskundige van George, gesels oor veghonde, nadat Phi­llipus Draai (63) aangeval en verskeur is deur twee veghonde in die weermagbasis op Oudtshoorn.

Volgens hom is die ge­heim met Ame­rikaanse veghonde is om seker te maak jy koop ’n hond wat ’n baie hoë verdraag­saamheidsvlak teenoor mense het, en om hulle vir opleiding na ’n kenner te neem. Veghonde word volgens hom geteel om verdraagsaam teen­oor mense te wees, maar nie teenoor diere nie. Sodra ’n veghond egter ’n mens gebyt het, kan hulle dit weer doen omdat hulle hou van die opwelling van adrenalien wat die aanval meebring. “Opregte veghonde is wonderlike honde, maar nie goeie waghonde nie. Om een te besit, behoort ’n leefstyl te wees,” het hy gesê. (Deur Angelique Erasmus)

1 Comment on "Veghond val Oudtshoorn Skut se Magda Davel aan"

  1. We fed this dog every evening and she showed ni signs of agression. I took the food to her outside our fence and she did nothing. There must have been another reason for her agression.

Comments are closed.