‘Almal in dieselfde bootjie’

Jolanda de la Hunt. Foto: Die Hoorn

’N NUWE restaurant op Oudtshoorn, The Waffle Bubble, was skaars twee weke oop vir besigheid toe die inperking ingeskop het.

Die eienaar, Jolanda de la Hunt, sê na maande se beplanning, en opgewondenheid het die inperking haar nuwe besigheid tot stilstand laat kom en haar enigste bron van inkomste laat opdroog.

“Dis nie net ek wat hieronder ly nie, maar ook my werknemers, wat almal nou sonder betaling by die huis moet sit. Ek kan nie eers
werkloosheidversekering vir hulle trek nie, omdat hul skaars twee weke in my diens was. My hart breek vir hulle,” sê sy.

Die aankondiging van Fase 4 van die inperking het egter ’n liggie aan die einde van die tonnel gebring, omdat hulle kon begin met die aflewering van kos.

“Dit verseker minstens dat ons daagliks iets inkry, al dek dit net ons basiese behoeftes,”

Sy maak ook self die kos vir die bestellings en lewer dit af, omdat sy nie tans nog ’n persoon kan bekostig om haar te help nie.

“Ek is dankbaar vir elke sent, en weet daar is so baie ander mense in Oudtshoorn wat geen inkomste in hierdie tyd kry nie. Mense prioritiseer tans wanneer dit kom by geld wat uitgegee word.

“Hulle sal eerder kos by winkels koop om dit self by die huis te maak as wegneemetes, omdat dit goedkoper is.”

Jolanda het haar spyskaart verkort om koste te bespaar, maar sê sy kry baie positiewe terugvoer vanaf mense wat kos bestel het. Ek wil dankie sê aan almal wat plaaslike besighede in hierdie moeilike tyd ondersteun en my mede-restaurant- en besigheidseie-naars sterkte toewens.

“Ek dink aan julle almal in hierdie tyd. Ons is almal in dieselfde bootjie, maar ek sal julle ondersteun waar ek kan.” (Deur Angelique Erasmus)