Inperking ’n bekommernis

Jolanda Botha. Foto verskaf

“DIE dag toe die landwye inperking afgekondig is en ek hoor dat ons besighede gesluit moet word, het ek skoon ’n naar gevoel op my maag gekry,” sê Jolanda Botha, die afgelope 15 jaar die eienaar van Style A Head, ’n haarsalon op Oudtshoorn.

Sy sê die inperking is vir haar ’n groot bekommernis omdat hul huis­houding altyd twee inkomstes gehad het.

Nou verdien nog net haar man ’n in­koms­te.

Met die aankondig van Vlak 4, het sy hoop gekry, maar dit was van korte duur omdat haarsalonne steeds nie hul deure kan open nie.

“Dit het gevoel asof iemand my met ’n emmer koue water gooi. Ek het skoon sleg begin voel.”

Jolanda het in Maart vanjaar ’n ligte hartaanval gehad, en besef sy moet mooi na haar gesondheid omsien.

Sy is voorts ook ’n diabeet en verlaat slegs die huis om noodsaaklike inkopies te gaan doen of om chroniese medikasie te gaan afhaal.

Sy sê sy en haar man het so gou moontlik reë­lings met die bank getref om hul huis en voertuigpaaiement “on hold” te sit, maar daar is geen fi­­nansiële ondersteuning vir haar nie.

“Omdat ek die eienaar van my eie besigheid is, kan ek nie aanspraak maak op UIF nie, ons kry ook nie kospakkies of enige ander hulp van staatsinstansies nie.”

Op ’n vraag oor wat sy die meeste mis, is Jolanda beslis dat dit haar haar kliënte is “wat eintlik meer soos fa­mi­lie is”.

“Ek mis die gesels en om tyd saam met almal te spandeer.”

Sy sê sy ken baie kliënte al jare lank, met hul kinders wat voor haar grootgeword het.

Sy mag wel sekere haarprodukte verkoop en aflewer.

“Ek is bevooreg om van die huis af te werk, en het nie uitgawes soos huur nie, wat in my guns tel.”

Aan die begin van inperking het die nuus Botha so erg ontstel dat sy net ’n kombers oor haar kop getrek het.

Nou egter hanteer sy dit dag vir dag.

“Ek sien uit daarna om hopelik my vriende, familie en kliënte weer gou te sien.” (Deur Angelique Erasmus)