Steeds ’n aartsoptimis

Cyril Clarke. Foto: Stefan Skapie Goosen

AS ’n selferkende aartsoptimis verkies Cyril Clarke, ’n bekende onderwyser by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, om die Covid-19-pandemie en inperking in ’n meer positiewe lig te sien. Binnekort sal hy immmers weer in die klaskamer kan staan.

Daarom, sê hy, toe die departement van onderwys aangekondig het dat skole vir ’n onbepaalde tyd sou moes sluit, het hy geglo dat “onbepaald” nou nie so lank sou neem soos wat die deursnee-skoolkind gehoop het nie.

“In my gemoed was ek seker dat alles na so ’n maand of wat verby sal wees.

Dit was ongewoon dat ons kinders met stapels skoolwerk huis toe moes stuur aan die begin van ’n nogal skielike en onverwagte vroeë skoolvakansie.”

So ook was sy eerste reaksie op die virus nie paniek of kommer nie, alhoewel kommer wel ingesluip het, sê hy, toe alles in Oudtshoorn én Suid-Afrika summier gekanselleer is: “Nie uitgestel is nie – sommer afgestel!”

“As ek nou terugdink, was die eerste ding waar­aan ek gedink het my wyse Ouma du Plessis wat dik­wels gesê het: Die mens wik, maar God beskik.”
Amanda Strydom wat in ’n lied die aarde besing as ’n “klein blou ghoen” was ook in sy gedagtes.

“Ek het my verwonder aan die nietigheid van ons aardbolletjie… en ek het begin besef dat mense dink hulle is in volle beheer en dan besef hulle eensklaps dat hulle glad nie in beheer is nie. En dis dan dat hulle hul bekommer,” sê Mister Clarke, soos sy leerders hom ken.

Toe die skole sluit, moes leerders en hul ouers op onderwysers soos Cyril staatmaak. Al was beide leerders en hul ouers dalk geïntimideer deur die “stapels skoolwerk” wat moes huis toe gaan, sê Cyril dat Whatsapp-groepe baie tydens die inperking gehelp het.

Tweeweekliks het al sy klasse werk gekry. Dit wat gewoonlik in die klas verduidelik moes word, moes nou op ander wyses na die kinders gestuur word. “En dan moes ek, en dit was werklik geen moeite nie, die kinders se navrae oor die werk wat ek aan hulle gestuur het, beantwoord. Ek dink die ouers het die erns van die aangeleentheid algaande besef en figuurlik hand bygesit waar dit nodig was.”

Maar wat van die inperkingslewe buiten sy leerders?

“Ek het lankal in die lewe geleer dat as dinge anders raak, moet jy net vir jouself ’n roetine uitwerk en so normaal as wat dit moontlik is aangaan met jou lewe. Ek kan eerlik nie aan een dag dink waar ek so mismoedig was dat ek sommer heeldag in die bed bly lê het, of in my kamerjas en pantoffels rondgeslof het nie,” vertel Cyril.

Lees, skryf, fliek kyk en met die gesin kuier was tot dusver deel van sy inperking, saam met ’n bie­tjie humor om “almal om my se angs, soms ook my eie, in perspektief te stel”.

Maar wat van terugkeer skool toe, en ge­paard­gaande vrese?

“Nee wat. Vrese het ek werklik min. Dalk is ek doodgewoon te dom om myself te belaai met vre­se. Maar dit gaan ’n gans nuwe tydperk in ons almal se lewens wees, daarvan is ek seker.”

Hy voeg by dat hy uitsien om terug te gaan skool toe met al die nuwe uitdagings daarby.

Al sou Cyril die positiewe kant in alles wou raaksien tydens hierdie periode, is dié onderwyser ook net mens, al mag sommige van sy leerlinge dalk nie aldag so dink nie.

“Ek is hartseer oor so baie mense wat tydens die grendeltyd nie kon werk nie en hulle werk gaan verloor. Ek dink aan so baie mense wat alleen hier­die tyd moet ervaar. En ek dink aan hulle wat ge­liefdes om watter rede ook al in hierdie tyd verloor het, want hoe kry mens ooit klaarheid as jy nie eers op een of ander wyse kon gaan tot siens sê nie?”

Maar ’n optimis bly hy deur en deur.

“Ek glo die mensdom gaan gelouter anderkant uitkom.

“Dalk, net dalk, is ons almal se behoeftes en waardestelsel dan eenvoudiger omdat ons nou geleer het met hoe min jy regtig kan klaarkom.” (Deur Stefan Skapie Goosen)