HY was net 12 jaar oud en moes nog vir sy opvolg doktersbesoek gaan.
Maar toe verskiet die sterretjie van die pragtige en gewilde seuntjie, Juralthon Jacobs, wat as gevolg van die inperking nie na die George Hopsitaal vir sy opvolgbesoek kon gaan nie.
Sy moedige maar hartseer ma, Babsie, vertel: “Hy het mos sulke vratte op sy stembande ontwikkel. Hy het al hoe moeiliker begin sluk en asemhaal. Hy was onder George, maar toe hy siek raak, het ons hom na die plaaslike hospitaal geneem.
“Daar het die mediese personeel hul bes probeer. Maar God het anders besluit.
“Hy wou nog so graag see toe gaan voor sy volgende besoek aan George.”
Jeralton is op 13 Mei 2020 oorlede.
Maatjies was in trane toe hulle hoor Juralton is nie meer met hulle nie.
Babsie vertel verder: “Ek het die nag na sy dood in die vroeë oggendure opgestaan en vir God gevra om my net ‘n teken te gee waar my kind is. Daai môre nog, voor dagbreek, toe verskiet ’n ster! Toe weet ek my kind is by God.”
Jualthon se onderwyser, Rochelle Reed, het die volgende oor haar gewese leerder geskryf: “My smiley-kind. Ek gaan jou veral soggens mis as jy kom inloer het. Dan verhelder daai gesiggie met daai smile net om môre te sê.” (Deur Deon Meyer)