’N ELEKTRIESE kombers wat vermoedelik aan die brand geslaan het, was Dinsdagaand die oorsaak van ’n brand wat Conroy en Jodi Mulder se huis in Jakarandalaan, Oudtshoorn, gedeeltelik in puin gelê het.
Conroy, die eienaar van Oudtshoorn Sweiswerke, sê hy was nie in die slaapkamer toe die brand ontstaan het nie, maar is deur sy gesinslede geroep toe hulle op die brandende kamer afgekom het.
Volgens hom was die Oudtshoorn Brandweer binne vyf minute op die toneel en kon hulle keer dat die brand na die hele huis versprei.
Daar is egter massiewe skade in die dele van die huis wat wel gebrand het.
Niemand is in die brand beseer nie.
Susan White, ’n inwoner van Jakarandalaan, sê sy en haar man, Eben, was binne hul huis besig toe hulle ’n klapgeluid gehoor het en uitgehardloop het het om te sien wat dit veroorsaak het.
“Almal in die straat het baie groot geskrik. Ons sal ons bes probeer om die Mulders by te staan,” het sy gesê. (Deur Liesel le Roux)
