Geliefde dokter en oud-inwoner sterf onverwags

Dr Paul Rüschenbaum. Foto Facebook

‘N BEKENDE en geliefde mediese dokter van die Suid-Kaap en jarelange mediese bestuurder van die Oudtshoorn Hospitaal, dr Paul Rüschenbaum, is verlede Vrydag (15 Mei 2020) onverwags oorlede.

Hy was vanaf 2001 tot 2016 op Oudtshoorn gesetel as mediese bestuurder vir die Oudtshoorn sub-distrik en was vanaf April 2016 mediese be-stuurder vir die Mosselbaai sub-distrik.

Harry Levendal, burgemeester van Mosselbaai, het die week gesê Rüschenbaum het sedert hy hom op Mosselbaai gevestig het, ’n onuitwisbare indruk gemaak en ’n enorme rol gespeel rondom die hantering van Covid-19.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, het die depar­tement se simpatie aan Rüschenbaum se fa­milie, vriende en kollegas oorgedra.

Rüschenbaum wat die laaste aantal jare met kanker gesukkel het, is na verneem word Vrydag tydens ’n mediese prosedure oorlede.

Op Die Hoorn se Facebook-blad het mense Rüschenbaum as ’n merkwaardige en diep gelo­wi­ge mens bestempel, en het talle getuig van sy vriendelikheid en nederigheid.

Hy word oorleef deur sy vrou, dr Helmie Pretorius, en twee seuns en ’n dogter, Jon-Paul, Stephan-Luke en Heidi-Lee. (Deur Liesel le Roux)