Uit die hof: Saak teen moordverdagtes uitgestel vir verdere ondersoek

Die saak teen sewe verdagtes van Rose Valley wat van moord op die 19-jarige Anthony Wessels aangekla word, is in die landdroshof vir verdere ondersoek tot 26 November uitgestel.

Wessels is die aand van Saterdag, 14 September voor sy huis doodgesteek.
Reagan Jaftha (21), Dayini Jacobs (21), Jayden Danster (19), Tyron Sederstroom (18), Genwin Ekstraal (28), Jason Jacobs (22) en Germaine Jacobs (18), staan ook tereg op ’n klagte van aanranding om ernstig te beseer. Hulle het die oorledene glo ook met klippe gegooi.

Volgens die staatsaanklaer, Zelda Jass, bestaan kommer oor die veiligheid van die verdagtes na beweerde dreigemente.

Landdros N Khan het egter borgtog van R500 met streng borgvoorwaardes aan elk van die verdagtes toegestaan. (GARNETT WICOMB)