Waarnemende direkteur deur raad aangestel

Tydens ’n spesiale raadsvergadering wat op Donderdag 31 Oktober plaasgevind het, het die stadsraad die aanstelling van Ian Avontuur as waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste goedgekeur.

Dit volg nadat daar by die vorige raadsvergadering teenkanting teen die aanstelling deur die opposisiepartye aangeteken is. Tydens daardie raadsvergadering het die raad besluit om die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, in kennis te stel van hulle voorneme om Avontuur aan te stel.

Die aanstelling is Donderdag met onmiddellike effek goedgekeur. Avontuur sal waarneem totdat ’n permamente aanstelling na afhandeling van die hele proses gemaak word. Die pos het verlede maand vakant geraak toe Noël van Stade as direkteur van gemeenskapsdienste bedank het.

Tydens die raadsvergadering het die uit-voerenede burgemeester, Johan Allers, ook ’n brief aan die raad voorgehou waarin minister Bredell die raad meedeel dat hy saamstem met die aanstelling van Mkhululi Yekani as waarnemende munisipale bestuurder terwyl Walter Hendricks se skorsing van drie maande van krag is.

Die raad het ook goedkeuring gegee dat daar met ’n werwingsproses begin word vir die pos van direkteur van finansies wat op 1 Maart vakant word wanneer die huidige direkteur se kontrak ten einde loop.

Die raad is ook die goeie nuus meegedeel dat 99% van Oudtshoorn se 17 219 koopkragmeters reeds geherprogrameer is.

Daar is slegs 178 meters wat nog gedoen moet word voordat kragmeters wat landwyd op 24 November nog nie geherprogrameer is nie, buite werking sal wees. Die proses het reeds verlede jaar begin.