DIE herstelwerk aan ’n toevoerpyp van die Raubenheimerdam wat op 5 Mei gebreek het, is afgehandel. Oudtshoorn se drinkwater kom van die Raubenheimerdam.
Water word sedert Dinsdag weer van die dam na Oudtshoorn gepomp.
Die herstelwerk, wat deur ’n spesialis-kontrakteur gedoen is, was volgens Ntobeko Mangqwenqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, nie ’n maklike taak nie omdat dit in ’n beperkte ruimte in ’n tonnel onder die wal gedoen moes word. Die pyp, wat 400 mm in deursnee is, se betonlaag moes eers weggebreek word voordat herstelwerk kon begin. Ná die afhandeling van die werk, is dit weer met beton omhul.
Oudtshoorn is tydens die herstelwerk deur die Mellvilledam van water voorsien. (Deur Liesel le Roux)