‘Hy was geliefd onder almal…’

“ONS verloor ’n legende.”

“ ’n Groot boom het geval.”

So het Oudtshoorniete die week gereageer op die dood Maandagoggend (25 Mei 2020) van ’n oud-skoolhoof en sakeman van Oudtshoorn, Johan (Cassie) Carstens (73).

Carstens, wat ’n diabeet was, het gesondheids­probleme ondervind sedert hy geruime tyd gelede ’n beroerte-aanval gehad het.

Hy was baie geliefd by die hele gemeenskap van Oudtshoorn, soos dit duidelik blyk uit die reaksie op ’n inskrywing oor sy dood op Die Hoorn se Facebook-bladsy.

Baie het hom geken as die vriendelike man wat vir verbygangers waai terwyl hy dorp toe stap. Vir ander sal hy altyd ’n plekkie in die hart hê vir die wyse waarop hy kinders en ouers hanteer het terwyl hy skoolhoof van die Oudtshoorn Junior Primêre Skool was.

So skryf een van sy oud-leerders, Madison Jonas, byvoorbeeld op Die Hoorn se Facebook-blad: “Rus in vrede, Meneer. Verjaarsdae op Junior Primêr was baie spesiaal. Meneer het ons altyd kantoor toe geroep om ons persoonlik geluk te wens en te bederf met ‘n stokkielekker.”

Carstens was hoof van die skool vanaf 1995 tot 2000. In 2000 het hy Milky Lane gekoop en in 2001 The Flying Ostrich.

“Hy was oral betrokke waar hy kon, by kerke, skole en wyer,” sê ’n familielid, Arno Greyling. “Hy word deur so baie mense gehuldig as ’n pa, nie net vir sy eie kinders nie, maar ook vir duisende leerders wat deur sy hande is. Hy was geliefd onder die hele gemeenskap.”

Carstens word oorleef deur sy vrou Elmarie (néé Spies), wat hy ontmoet het toe hy van 1967 tot 1969 by die Onderwyskollege Oudtshoorn gestu-deer het, asook drie seuns Neil, Hendrik en Johan, en drie kleinkinders. (Deur Liesel le Roux)