’N BEKENDE en geliefde Oudtshoorniet, onderwys- en gemeenskapsleier, Lionel Tait (76), is Dinsdag (26 Mei 2020) oorlede.
Tait het jare lank ’n prominente rol gespeel in die Oudtshoorn Rotariërs. Hy was tot met sy dood sekretaris van die die organisasie, en is ook ’n oud-president en voormalige assistent-goewerneur van die Rotariërs in die Suid-Kaap.
“Lionel was ’n besonderse mens vir wie ons almal by die Oudtshoorn Rotariërs baie lief was en wat ons almal gerespekteer het. Ons gaan hom mis,” sê Schalk le Roux, huidige president. Hy het sy innige meegevoel met Lionel se vrou, Dulary, en familie betuig.
Tait was die laaste rektor van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaap (OKSK) wat in 1996 eensydig deur die onderwysowerhede gesluit is. Hy het dié pos vanaf 1982 tot 1996 beklee. Hy was die afgelope jare steeds betrokke by inisiatiewe om weer ’n onderwyskollege op Oudtshoorn te open.
Tait het ook ’n groot bydrae gelewer by die CP Nel Museum op Oudtshoorn waar hy jare lank waargeneem het as bestuurder vanaf 1997 en was later voorsitter van die beheerraad.
Groot getalle mense het Tait die week op Die Hoorn se Facebook-bladsy geëer.
“Voorwaar ’n man van inbors, ’n legende sy tyd vooruit. Rus sag! Hulle word nie meer so gemaak nie!” skryf Ambrose Bezuidenhout.
“Indeed a great man with a true passion to serve,” skryf Royden Boonzaaier.
“Our heartfelt sympathies of all of the Friends of the CP Nel Museum to his wife and family on the passing of Lionel Tait. We all experienced him to be a gentleman with high standards of integrity and honesty, who never hesitated to assist where he could. His service to the CP Nel Museum and the wider community are proof of the stature of this man. He will be sorely missed,” is Peter en Hanlie Gray se bydrae. (Deur Liesel le Roux)