Eerste wintersneeu lê dik in die Klein Karoo

Wit net waar jy kyk! Fotos: Etienne Janse van Rensburg

DIE winter het sy koms in die Klein Karoo die week met sneeu op die Swartberge en onverwagse goeie reën in die streek aangekondig.

Die Swartberge was Dinsdag­oggend wit van die sneeu met temperature wat merkbaar geval het. Talle inwoners het op sosiale media hul teleurstelling uitgespreek dat hulle as gevolg van die huidige inperking nie soos gewoonlik na die sneeu op die Swartberge kan gaan kyk nie.

Baie beter reën as wat voorspel is, het ook geval met sowat 13 tot 18 mm wat Dinsdag in verskillende dele van Oudtshoorn gemeet is.

Die reënval in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam, Oudts-hoorn se drinkwaterdam, was net 11 mm, maar sodra die sneeu begin smelt behoort dit ook ’n goeie bydrae tot die dam te maak.

Die Raubenheimerdam is tans 52,42 % vol. (Deur Liesel le Roux)