Nagtelike rooftog laat joggies getraumatiseerd

DIE Oudtshoorn Polisie is tans op die spoor van ’n groep mans wat Maandag in die vroeë oggend­ure twee petroljoggies van Rainbow Motors op Oudtshoorn met ’n vuurwapen en messe aangehou het.

Die mans het te voet in die rigting van die stasie gevlug toe die seku­ri­teitsmaatskappy, Black List Security, by die toneel opdaag, en is na verneem word later in die omgewing van Smartie Town in Bridgton opgemerk.

Die rooftog is op ’n sekuriteitskamera in die winkel opgeneem terwyl vyf mans ’n kasregister en ander voorraad in die omgewing gepunder het – ’n onbekende bedrag geld en pille soos Disprins en Panado’s, Vicks, samboksalf en lekkergoed.

Valerie van der Walt, eienaar van Rainbow Motors en die geriefswinkel, Die Naguil, sê in die gedeelte waar die rooftog plaasgevind het, is erge skade aangerig.

Rainbow Motors is by die uitgang van Oudts­hoorn na George geleë.

“Hulle het net begin plunder. Die rekenaar en alles waaraan hulle geraak het, is beskadig. Hulle het ook melk oor alles uitgegooi. Blykbaar word dit gedoen om te probeer verhoed dat vingerafdrukke geneem word.”

Sy sê sy het Dinsdag besef die petroljoggies, Reymondo Jafta en Sebastiaan Jacobs, is erg getraumatiseer.

Hulle het reeds vir berading gegaan.
Volgens Van der Walt het die twee petroljoggies die aand kop gehou, al het die mans hulle met ’n vuurwapen gedreig.

“Een van hulle was buite, en het die mans gesien aankom na die besigheid toe.

“Hy het sy kollega binne die winkel gaan waarsku.

“Hulle het die deur van binne gesluit en ’n paniekknoppie gedruk om die veiligheidsmaat­skappy te ontbied.

“Die rowers het dit egter steeds reggekry om die winkel binne te kom.
Volgens haar was daar ’n sesde man wat buite onder die bome vir die vyf rowers gewag het.

Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die rooftog het omstreeks 01:15 plaasgevind en dat die mans te voet in die rigting van die stasie gevlug het.

Volgens haar volg die polisie tans verskeie leidrade op, maar teen druktyd was niemand nog in hegtenis geneem nie.

Die video van die rooftog is te sien op die Facebook-bladsye van Die Hoorn en Oudtshoorn Crime Watch.

Nog twee besighede beroof

Nog twee besighede in Oudtshoorn – die een ’n spazawinkel in Smartie Town en die ander ’n spazawinkel in Rosevalley – is ook die maand beroof.

Michaels sê die winkel in Smartie Town is die nag van 21 en 22 Mei beroof.

“Die klaer in die saak het na bewering binne-in die winkel geslaap toe ’n verdagte die veiligheidshek van die winkel oopgebreek en items ter waarde van sowat R4 872 gesteel het. (Deur Liesel le Roux)