Oudtshoorn se Kezia een van land se top-20!

’N JONG Oudtshoorniet het verlede week haar dorp trots gemaak toe sy met haar mooi sang en sprankelende persoonlikheid deurgedring het na die Top-20 in die gewilde TV-program Maak my Famous.

Kezia Swartz (18) was aanvanklik een van 48 finaliste wat uit meer as 8000 inskrywings gekies is om aan die TV-kompetisie deel te neem. Die program, met Emo Adams as aanbieder, word Woensdagaande om 19:00 op kykNET uitgesaai.

Die reaksie van mense op haar optrede was oorweldigend, vertel die vriendelike Kezia.

“Ek het my foon tydens die program afgesit en toe ek dit na die tyd aansit, kon ek nie die reaksie glo nie! Selfs Cheslin Ruiters, verlede jaar se wenner, het my gevideo-call.

“Die optrede self was ’n ervaring. Ek is nie ge­woond aan so baie kameras en ook nog ’n gehoor en Emo Adams naby nie! Ek het so baie geleer by die mentors en die ander deelnemers. Van die deelnemers het vir my soos familie ge­raak.”

Haar liefde vir sing was maar nog altyd daar, sê sy. “Ek hoor ek het al op my eerste verjaarsdag vir myself gesing!”

Kezia, wat verlede jaar matriek aan Bridgton Sekondêr geskryf het, het baie drome. Vanjaar wil sy haar toespits op haar sang en musiek, maar sy hoop dat sy ’n beurs sal kan kry om volgende jaar drama te gaan studeer.

Alles is egter nie maklik in die Swartz-huis­houding nie.

Haar pa, Fanie (52), ’n diabeet, is bedlêend nadat hy verlede jaar drie beroerte-aanvalle gekry en sy een been vroeër vanjaar geamputeer is.

Dié oud-korporaal en kok in die weermag kan nie praat ná die beroertes nie, en toe Kezia vir hom ’n video gewys het van haar TV-optrede het hy baie emosioneel geraak, en eers geglimlag en toe begin huil.

Sy sê sy weet hy is trots op haar, al kan hy dit nie sê nie.

Iemand wat dit wel vir haar sê, is haar ma Be­verly (52), ’n onderwyser by Colridge Primêr. “My ma is baie trots. Sy sê dit is iets goed wat in ons lewens gebeur in ’n baie moeilike tyd.”

• Die video van Kezia se vertolking van Halo van Beyoncé waarmee sy deurgedring het na die top-20 is te sien op YouTube. Gaan na www. youtube.com en tik in kezia swartz maak my famous. Sy vra dat mense haar asb moet ondersteun deur na die video te kyk. (Deur Liesel le Roux)