Rotariërs spring in met kospakkies en lapmaskers

DIE Oudtshoorn Rotariërs het sedert die COVID-19-inperking reeds beduidende bydraes in die Groter Oudtshoorn gelewer om voedselnood te help verlig en te help dat elkeen op die dorp en in die omstreke ’n lapgesigsmaker kry.

Dalia Wilck van die Oudtshoorn Rota­riërs wat die Rotary Hunger Relief Project begin het, sê die klub het reeds digby R50000 ingesamel om kospakkies ter waarde van R200 elk in die Groter Oudts­hoorn te versprei.

“Ons het reeds 115 pakkies uitgegee in Bridgton, die sentrale sakegedeelte en in Oudtshoorn-Noord en -Suid, insluitende aan onder meer restaurantpersoneel, individue, motorwagte en kerke asook deur Klein Karoo Connect. Vrydag sal ’n ver-dere 122 pakkies versprei word, waaronder 40 op Dysselsdorp en aan personeel van die Cango Wildlife Ranch, restaurantpersoneel en lede van ’n hardloopklub.

Die Oudtshoorn Rotariërklub het self R5000 vir die projek geskenk asook sken­kings van R15000 by Rotariërdistrik 9350 en R15000 van die Claremont Rotariërklub ontvang.

Wilck het almal wat skenkings gedoen het, insluitend lede van die publiek en Rotariërlede, bedank vir hul bydraes om voedselnood in die Groter Oudtshoorn te help verlig.

Verdere finansiële bydraes vir die voed­selprojek kan inbetaal word by die Rotariërs se Nedbankrekeningnommer 1626014752. Taknommer 162 645. Vir navrae oor die projek kan Wilck gekontak word by sel 084 620 0977.

Lapmaskers by die duisende
Toe die Oudtshoorn Rotariërklub met die maskerprojek begin het, is dadelik besluit om Masks4All (Oudtshoorn and Surrounds) te nader om met hulle saam te werk. Masks4All het toe reeds gratis lapgesigsmaskers gemaak en versprei het.

Masks4All het aanvanklik hul maskers onder gesondheids- en ander werkers wat met die publiek in aanraking kom, versprei. In daardie stadium het Masks4All reeds 1324 maskers versprei.

Masks4All het sowat 30 vrywillige naaldwerkers en het meestal op skenkings van materiaal en ander beno­digdhede staatgemaak om die maskers te maak.

Schalk le Roux, president van plaaslike Rotariërklub, sê toe die klub besluit het om met Masks4All saam te werk, het hulle R5000 geskenk vir die aankoop van materiaal en ander benodighede.

“Suné Rupping hanteer die projek namens die Rotariërs en werk nou saam met Amanda Pieterse van Masks4All. ’n Permit moes vir ’n materiaalwinkel gereël word om die materiaal te kon aankoop.

“Suné en ander Rotariërs het eers die materiaal gewas en gestryk en die lap vir die maskers opgesny. Daarna het sy dit aan Masks4All besorg. Sy en ander Rota­riërs het self ook ywerig gestik om mas­kers te help maak. Tot op hede het die Rotariërs danksy onder meer skenkings altesame R22000 op materiaal en ander benodigdhede vir die projek bestee.”

Sedert die Rotariërs betrokke geraak het, is ’n verdere 3176 gesigsmaskers ge­maak en word dit tans versprei. Daar is nog materiaal en benodigdhede vir ’n ver­dere 1500 maskers beskikbaar.

Pieterse sê die Rotariërs speel ’n sleutelrol in die Masks4All-projek se­dert hulle betrokke geraak het.

“Die klubs het skenkings bekom wat gehelp het om die projek volhoubaar te maak. Hulle het ook ’n aantal naaldwer-kers bygekry om te help stik en gehelp met die verspreiding van die maskers op Oudtshoorn. Die uitstekende samewerking met Suné het baie momentum aan die projek verleen.

“Saam streef ons daarna dat elkeen in die Groter Oudtshoorn ’n lapmasker kry om die verspreiding van die virus op ons dorp te bekamp,” het Pieterse gesê.

Rupping sê Amanda se geesdrif en onbaatsugtige harde werk is aansteeklik.
“Sy is huisvrou en ma van drie kinders en gee meer as 100%. Sy sien toe dat haar kinders hul huiswerk doen. Benewens dit moet hulle ook met die maskers help. Haar man, Brendon, ondersteun haar ook om van die projek ’n sukses te maak.”

René Lubbe koördineer die naaldwer­kers namens Masks4All. Een van dié naaldwerkers, Denise Nortier, maak 100 maskers per dag.

Vir meer inligting oor die Masks4All-projek besoek gerus hul Facebookblad.
Help so met maskers vir almal!

Naaldwerkers wat graag by die maskerprojek betrokke wil raak, kan Rupping by sel 0823097834 kontak of vir haar ’n WhatsApp stuur.

Mense wat materiaal wil skenk vir die projek kan dit by Pick n Pay op Oudtshoorn aflewer. Daar is ’n trollie by die ingang. Materiaalskenkers kan ook vir Pieterse bel by 0827670289 of haar WhatsApp. Diegene wat verkies om ’n finansiële bydrae tot die maskerprojek te lewer, kan ’n inbetaling doen by die Rotariërs se Nedbankspaarekening: Rek nr: 902 150 6772, takkode 198 765.

Le Roux het sy hartlike dank namens die Rotariërklub uitgespreek aan almal wat tot die sukses van die twee projekte bygedra het.

1 Comment on "Rotariërs spring in met kospakkies en lapmaskers"

  1. J.M. Hayter | 05/08/2020 at 17:23 |

    Hulle doen fantastiese werk in hierdie tyd. Baie dankie aan die getroude mans wat ook hul deel gedoen het met kook, huishou en kinders op has terwyl die mammas moes rondry om die maskers af te lewer en skenkings van lap ens. moes optel. Ons waardeer dit.

Comments are closed.