Calitzdorp Spa en De Hoek geïdentfiseer vir kwarantyn of selfisolasie

DIE Calitzdorp Spa en De Hoek bui­te Oudtshoorn is twee van ver­skeie plekke in die Tuinroete Distriks­munisipaliteit wat geïdentifiseer is vir die kwarantyn of selfisolasie van mense wat met COVID-19 gediagno­seer word.

Beide die Groter Oudts­hoorn en Kannaland val binne dié distriksmunisipaliteit.

Mense wat in kwarantyn* of isolasie* geplaas moet word, hoofsaaklik omdat hulle nie self die geriewe daarvoor sal hê nie, sal met hulp bygestaan word deur die nasionale Departement van Openbare Werke, die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en die plaaslike munisipaliteite in die streek.

“Suid-Afrika se situasie verskil van baie ander dele in die wêreld omdat baie mense hier nog in informele woongebiede woon.

“Digbewoonde, klein gebiede met ’n gebrek aan behoorlike sanitasie is die rea­liteit in al nege provinsies in die land. Daarom was dit nodig dat ons dosyne plekke identifiseer waar kwesbare mense gehuisves kan word,” sê Memory Booysen, burgemeester van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Volgens die hoof van rampbestuur in die Tuinroete Distriksmunisipali­teit, Gerhard Otto, word fasiliteite in die volgende sewe kategorieë ingedeel – op grond van die vlak van sorg wat pasiënte nodig het:

Vlak 1 – akute hospitale (sewe geïdentifiseer);
Vlak 2 – uittree-fasiliteit (een geïdentifiseer);
Vlak 3 – privaat-kwarantyn (15 plekke geïdentifiseer);
Vlak 4 – privaat-selfisolasie (twee plekke geïdentifiseer);
Vlak 5: Openbare isolasiesentrums (22 geïdentifiseer).

Sewe skuilings en sewe voeding­stasies is ook geïdentifiseer.

Otto sê inwopners kan gerus wees dat streng voorsorg getref sal word om die publiek teen blootsteling aan mense met COVID-19 te beskerm. “Ons sal internasionale standaarde volg om elke persoon se veiligheid te versekers.”

  • Kwarantyn dui op die beperking van aktiwiteite en/of skeiding van ander of mense wat vermoedelik siek is. Die doel van kwarantyn is om die verspreiding van die siekte te voorkom.
  • Isolasie is die skeiding van siek of COVID-19-positiewe mense of goedere van ander om die verspreiding van infeksie of kontaminasie te voorkom. (Deur Liesel le Roux)