Sifting en toetsing binnekort op Oudtshoorn

DIE Departement Gesondheid beoog om enige dag nou ook met sifting (“screening”) tydens tuisbesoeke in gemeenskappe in die Groter Oudts­hoorn te begin en so COVID-19-gevalle vroeg op te spoor.

Tussen 6 en 28 April is reeds meer as 18 000 mense in ander dele van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit gesif en 75 van die mense vir toetsing verwys. Oudtshoorn val onder die Tuinroete Distiksmunispaliteit.

“Ons wil seker maak dat groot getalle mense in ons kwesbare gemeenskappe gesif en getoets word om so mense teen die verspreiding van COVID-19 te beskerm,” sê dr Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid.

Die siftingstoetse word tydens deur-tot-deur-besoeke deur gesondheidswerkers gedoen. Tydens die sif­ting word ’n paar vrae aan inwoners gevra, soos of iemand siektesimpto­me het soos ’n seer keel, ’n hoes of koors.

Die minister het ’n beroep op mense gedoen om die vrae eerlik te beantwoord.

Gesondheidswerkers kan uitgeken word aan hul kentekens en kleredrag.

“As jy vir ’n toets gestuur word, kan jy verseker wees die toets is veilig,” sê Mbombo.

“Toetsing vir die koronavirus word gedoen deur ’n neusdepper te neem, met die uitslag wat binne twee tot drie dae beskikbaar sal wees.

“Terwyl jy op die uitslag wag, moet jy jou asseblief in kwarantyn plaas in ’n aparte vertrek in die huis en nie besoekers ontvang nie. Vra die gesondheidswerker vir hulp as jy nie ’n plek het waar jy jouself in kwarantyn kan plaas nie.” (Deur Liesel le Roux)