Moet ons nog 25 jaar negatief bly lewe?
Ek het met aandag die rubriek van doktor Piedt in Die Hoorn van 19 Maart 2020 gelees en weer eens tot die besef gekom dat ons in Suid-Afrika in die verlede ’n verskriklike onding gedoen het.
Maar ek word terselfdertyd baie moedeloos. Waar gaan dit eindig?!
Tans is die spreekwoordelike skoen aan die ander voet. Weer apartheid?
Die swartman blameer tydig en ontydig die witman vir alles wat in die land verkeerd loop (selfs vir die korona-virus het ek al gehoor).Werkaanstellings volgens kleur, besighede wat bemagtig is, kry in sekere gevalle voorkeur-behandeling.
Swart jongmense, nog nie eers 30 jaar oud nie, is baie keer openlik onbeskof teenoor almal wat nie swart is nie. Hulle het van apartheid geen persoonlike kennis nie, maar by elke politieke geleentheid word apartheid na meer as 25 jaar nog steeds aan die groot klok gehang. Dit is natuurlik ’n vorm van indoktrinasie.
Nou word hierdie rubriek ook nog geplaas; met ander woorde die eerste deel daarvan is nog verdere indoktrinasie.
Pres Mandela het aan die begin van sy termyn gereeld gepraat van ’n reenboognasie. Ek was trots dat ek op pres De Klerk se vraag “Ja” gestem het. Onthou, die meerderheid wit Suid-Afrikaners het “Ja” gestem. Het ek dan ’n fout begaan? Waarom word daar nie meer geskryf en gepraat oor hierdie twee besonderse presidente se unieke optredes nie? Moet ons dan vir nog 25 jaar negatief bly lewe? Onthou dat twee verkeerde optredes (dinge) nie ’n optrede (ding) reg maak nie.
Ek het natuurlik die rubrieke en ook die skrywe in Rapport verder gelees en vind u woorde aan die einde van elke skrywe bemoedigend. Ek sien gereeld gevalle van samewerking in Oudtshoorn en ek probeer ook maar waar ek kan. Dit was darem lekker om oor RSG te hoor van die besondere prestasie-samewerking deur die hele gemeenskap te Bonnievale ten opsigte van bouwerk van hul skool in die dorp.
Die skrywe van Glen Snyman in Die Hoorn is vir my ook ’n ligpunt.
Ek is tog oortuig dat ons met die hulp van ons Here hierdie land ’n beter plek kan maak.
Jesus-groete.
- Johannes, Oudtshoorn