Nuwe inisiatief wil sport bevorder en sportliggame saamsnoer

​’N NUWE samebindende sportliggaam vir die Groter Oudtshoorn wat sportklubs sal saamsnoer en sport op groot skaal wil bevorder, is in beplanning vir Oudtshoorn.

Die man agter dié inisiatief is Dave van der Walt, bekende sportafrigter en sportadministrateur van Oudtshoorn.

Van der Walt sê daar word wyd in sportkringe besef dat ’n dorp met soveel potensiaal soos die Groter Oudtshoorn om sportbyeenkomste aan te bied en sporttoerisme te bevorder so ’n oorkoepelende liggaam moet hê wat almal insluit.

Die projek staan bekend as die Oudtshoorn Sportinisiatief.

“Dit is ’n a-politiese inisiatief-poging om sport in die Groter Oudtshoorn in ’n effektiewe bewe­ging saam te snoer en sodoende sporttoerisme tot voordeel van die plaaslike sportgemeenskap te ont­wikkel en die dorp finansieel daaruit voordeel te laat trek.”

’n Onmiddellike doelwit sal wees om ’n databasis daar te stel met die kontakbesonderhede van alle sportklubs, sportfederasies, rekreasieklubs, skole en assosiatiewe instansies in die Groter Oudtshoorn. Dit sluit Dysselsdorp, De Rust en ook landelike gebiede soos Volmoed in.

“Tans bestaan sulke broodnodige inligting eenvoudig net nie,” sê Van der Walt.

“Daar sal ook gestreef word na noue samewer­king met die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Toe­rismeburo, die Eden Sportraad, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport asook enige liggaam wat sport in die streek wil bevorder.”

Plaaslike besighede wat ’n ver­bin­tenis met sport het, soos sport­win­kels, restaurante, verblyfplekke, be­- siens­waardighede, die media en besigheidskamers, sal as assosiaat­lede deel van die Oudtshoorn Sportinisiatief kan word.

Van der Walt sê die eerste belang­rike stap is om alle sportklubs, skole en belangstellendes te bereik sodat hulle ’n vorm kan invul met hul basiese inligting en kontakbesonderhede.

’n Konsep-grondwet is ook beskikbaar. Vra die vorm en konsep-grond­wet aan by davesusvdw@gmail.com of Van der Walt by 082 7734 901. (Deur Liesel le Roux)