Steeds raadslid en onder-burgemeester

Gaven Juthe, Oudtshoorn se onder-burgemeester. Foto: Die Hoorn

’N GROEP mense wat verlede Vrydag (9 April) beweer het hy word uit sy party, die South African Religious Civic Organisation (Sarco), geskors, het nie die regsbevoegdheid om namens Sarco op te tree nie; onder meer omdat hulle nie opbetaalde lede van Sarco is nie en nie namens die party mag optree nie.

So sê Gaven Juthe, Sarco se proporsionele raads­lid in die Groter Oudtshoorn-raad en sedert Augustus 2020 onder-burgemeester van die Groter Oudts­hoorn.

By die perskonferensie op Oudtshoorn is aan Die Hoorn gesê dat Sarco Juthe skors omdat hy onder meer tugverhore verontagsaam het en nie koalisies wat hy sluit aan hulle bekend gemaak het nie, en is sy plek in die raad as proporsionele raadslid nou vakant.

Juthe sê egter die mense betrokke by sy skorsing het nie die regsbevoegdheid om namens Sarco op te tree nie. Volgens Juthe het hy reeds voor Vrydag se perskonferensie regstappe teen betrokkenes geneem, en is prokureursbriewe aan Abraham Tiemie, Jurie Harmse (’n oud-raadslid vir die ANC en die DA) en Martin Bentley gestuur.

Luidens die prokureursbriewe wat deur Juthe aan Die Hoorn beskikbaar gestel is, mag Tiemie reeds sedert 12 Maart vanjaar nie meer voorgee dat hy lid is van Sarco nie.

Harmse en Bentley het hul briewe op 8 April ontvang. Al drie word in dié briewe gemaan om onmiddellik te staak met hul wanvoorstelling dat hulle Sarco verteenwoordig.

“Die pogings van mense om my uit Sarco te verwyder, is ongrondwetlik,” sê Juthe.

Volgens hom het van die betrokkenes die ANC en GOOD tydens die tussenverkiesings van Desember 2020 bygestaan en is dié optrede volgens Sarco se reëls ook ongrondwetlik.

“Ek wil dit voorts duidelik maak dat ek nie in ’n koalisie is met die DA of enige ander party soos beweer word nie. Ek dien die mense van hierdie dorp en het ’n goeie werksverhouding met die meerderheid partye in die raad.

“Ek is trots om die gemeenskap van Oudtshoorn te dien,” het hy bygevoeg.

Dié optrede van lede van Sarco is intussen deur ’n ingeligte bron bestempel as “interne struwelinge” binne Sarco en ’n poging van mense wie se lidmaatskap opgeskort is om onmin binne die party te saai. (Deur Stefan Goosen & Liesel le Roux)