
Oudtshoorn se jaarlikse reёnval van 2014 tot 2019. Die 30 jaar-langtermyngemiddelde reёnval vir Oudtshoorn is 325 mm.
HOEWEL daar blydskap in die Klein Karoo was toe goeie reën die week geval het, is dié reën nie genoeg om verligting vir landbouers te bring nie.
Volgens ’n verslag wat Agri Klein Karoo Dinsdag beskikbaar gestel het oor landboutoestande in die Wes-Kaap, het die week se reën wel goeie nuus in ander dele van die provinsie gebring, maar is die grootste deel van die Klein en Sentraal Karoo steeds in die knyptang van ’n knellende droogte.
Die dramatiese afname in reën vanaf 2014 tot 2019 op Oudtshoorn – van 276 mm per jaar tot 87 mm per jaar – word in die meegaande tabel (regs van die berig) aangedui.
Die 30 jaar-langtermyngemiddeld vir reёnval op Oudtshoorn is 325 mm.
Volgens die verslag het niks in die afgelope 12 tot 24 maande in dié streek verander wat omgewingsfaktore betref nie. Opvolgreën is noodsaaklik.
Enkele lande lusern en wintergraan word aangeplant, maar dit is hoofsaaklik vir eie gebruik.
Die vlak van die Kammanassiedam staan tans op 0,1% en van die Stompdriftdam op 8,4%.
Alle voer word steeds aangekoop en produsente se kontantvloei is onder geweldige druk. (Deur Liesel le Roux)