’n Pensioentrekker van Bridgton wat graag iets vir haar medemens wil doen, Elizabeth Samson, het begin om elke Donderdag gekookte kos aan kinders, en ook volwassenes, uit te deel om ’n waardevolle bydrae te lewer in dié tyd van hongerte.
Ant Bet, soos sy alombekend staan, sê sy het die afgelope aantal jare gereeld ’n Kersfeesetes vir senior burgers aangebied, maar het nou met die Covid-19-pandemie besluit dat sy ook haar deel wil doen om in dié tyd van nood te help.
Sy het begin met sop, maar het nou besluit om liewer kos te kook.
“Ek is ’n pensioentrekker, maar voel ek wil ook iets doen tydens die pandemie.
“Baie van ons mense het hul inkomste verloor en ly al meer honger. Dit het my laat besluit om ’n helpende hand uit te reik.”
Benewens haar eie bydraes maak sy staat op skenkings wat sy van familie en ’n paar vriende kry om haar te ondersteun in haar liefdestaak.
“Ek is groot dank verskuldig aan Greg Baartman, Albert Nkolo, Anton Plaatjies, Lecia Jackson, Ashley Samson en Llewellyn Metembo, asook aan my wykraadslid Jerome Lambaatjeen, vir al die bydraes,” sê Ant Bet.
Sy sê sy wil graag voortgaan met haar poging om minstens elke Donderdag ’n paar potte kos te kook en iets te eet te gee aan mense wat voedselnood het. Sy word bygestaan deur Katriena de Beer en Jorrie Moos.
Mense wat Samson wil bystaan met ’n donasie kan haar by 073 100 3555 kontak. (Deur Garnett Wicomb)