DIE klasmaats van die 12-jarige Juralthon Jacobs het hul skoolmaat Saterdag op Ladismith gegroet met ’n erewag volgens die voorskrifte van die inperking en sosiale distansiëring.
Die leerders is gelei en vertroos deur een van hul onderwysers, Myna Loggenberg.
Juralthon het twee weke gelede in die plaaslike hospitaal gesterf nadat hy geruime tyd siek was en uitgroeisels op sy stembande ontwikkel het.
Begrafnisgangers het herhaaldelik die lied We shall overcome gesing met die Covid-19-pandemie in gedagte.
Volgens ’n huldeblyk van Hanlie Quantiney wou Juralthon graag ’n modeontwerper word:
“Hy het die mooiste sketse gemaak en altyd vir Mammie Babsie gesê sy moet eendag by hom kom werk.”
Babsie het op haar beurt met ’n knop in die keel haar steunpilare in Fouriestraat bedank vir hulle ondersteuning:
“As ek opskep, skep ek my kos in Juralthon se bord. Vandag kan ek met ’n geruste hart my kind laat gaan – veilig in Jesus se hande.” (Deur Deon Meyer)