
MET die Covid-19-pandemie word 2020 se matrieks gekonfronteer met uitdagings wat geen matriekklas voor hulle nog ervaar het nie. Adrian de Beer, ’n graad 12-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, het met Die Hoorn hieroor gesels.
“Voordat ek gedink het aan skool – met die aankondiging dat skole sou sluit weens die virus, het ek gedink aan ons hokkietoernooi in die vakansie waarna ek al vir drie jaar uitsien, en ek het net gehoop ons kry dit gedoen.
Maar anders as dit kon ek nooit dink dat die inperking so lank gaan wees en so ’n groot invloed op my matriekjaar sou hê nie. Ek was nie regtig benoud daaroor nie en het gekyk na dit as iets nuuts en iets om te onthou,” vertel Adrian.
Die hokkietoernooi is egter nie die enigste geleentheid wat hy en ander matrieks gaan misloop nie. “Dié is by verre die ergste deel van ‘lockdown’ vir my: my finale jaar gaan geen hokkiewedstryde, of kooroptredes, of OHSCAS (die skool se weergawe van die Oscars), of kampe, of toere, of danse, of enigiets hê nie. Die jaar wat almal vir ons van graad een af belowe het die beste sou wees – jou afskeidjaar – is weggeneem, totaal-en-al. Die lys gaan aan en aan oor planne wat nie kan realiseer en ‘memories’ wat nooit sal plaasvind nie.”
Sy vriende en mede-matrieks deel dié gevoel van verlies. “Hulle is net so hartseer en ontsteld oor alles wat weggeneem is. Ek glo ek praat vir almal as ek sê die skoolwerk wat ingehaal moes word, was niks teenoor die vrees dat ons ons matriekjaar kan verloor nie.”
Tydens die inperking het sy ouers vir hom baie tyd gegee vir homself, sê Adrian, siende dat hulle volgens hom besef het wat hy dié jaar sou verloor, “maar soos die tyd verloop het, was die fokus meer en meer op skoolwerk,” voeg hy by.
Hy sê hoewel skoolwerk nog nooit iets was waaroor hy gestres het nie, het die skool se Discord-platform en WhatsApp-groepe hom “verskriklik” gehelp met sy werk. En hy bieg dat hy in dié tydperk ongelooflik baie waardering vir sy wiskunde-onderwyser, Lindi van der Veen, gekry het. “Sy was altyd positief, en het elke dag se wiskunde met ons op Zoom behandel.”
Buiten die skoolwerk het Adrian homself, nes mens van ’n moderne tiener kan verwag, met rekenaarspeletjies soos Fortnite, en WhatsApp besig gehou. “Ek het dié wêreldbekende speletjie met die ‘boys’ (of altans manne, vir die ouer garde) gespeel. Dit was seker dié beste manier om van al die negatiwiteit te ontsnap,” vertel hy.
Daar was ook ’n bietjie “buitemuurse aksie”, skerts Adrian. “Ek het gedink dat, aangesien die sport weg is, ek myself kan besig hou met ander aktiwiteite soos om ’n ‘backflip’ te leer doen!”
Maar terug skool toe moet hy, en die “backflip”-oefeninge sal vir eers moet wag.
“Ek dink nie dat die reëls en regulasies wat nou by skole ingestel word, ’n groot aanpassing gaan wees nie, maar ek voel eerder dat hierdie ’n tydperk van net akademie en werk gaan wees, sonder enige ontsnapping soos wat daar voorheen sou wees. Dit kan ’n baie slegte uitwerking op baie mense se emosionele welstand hê.”
Dat daar vrese met die terugkeer skool toe sal wees, verstaan Adrian ook goed. “Ek weet dat baie van my vriende en ander leerders bang is om skool toe te gaan aangesien daar kinders gaan wees wat nie enigiets ernstig sal opneem nie, en hulle in gevaar sal sit in terme van die virus en byvoorbeeld op almal hoes. Ek weet ook nie hoe ek kan uitsien na ’n vorm van skool waar al die beste dele weggeneem is nie. Dit is ongelooflik hartseer, en aan al die matrieks wat – vreemd genoeg – hierdie in die koerant lees: Ons sal almal hierdie jaar onthou.”
“Ek dink aan party van die leerders en van my goeie vriende wat nie toegang tot die internet gehad het nie en onder baie slegter omstandighede as ek in die inperking was. Ek voel as ons die 100%-slaagsyfer wil behaal waarvoor ons matriekgroep gemik het, daar ongelooflik baie werk is wat voorlê, maar enigiets is moontlik.” (Deur Stefan Skapie Goosen)