Jaar nie verlore vir matrieks, sê prinsipaal

’N PRINSIPAAL se werk word min raakgesien en is boonop nooit klaar nie. Vra maar vir Karen Alex­ander, prinsipaal van Aurial College op Oudts­hoorn, wat tans druk besig is om die skool voor te berei vir 1 Junie, wanneer Suid-Afri­ka se matrikulante na die inperking te­rugkeer klaskamer toe.

Alexander sê die skool het reeds maat­­reëls gereed om leerders en onder­wy­sers veilig te hou, soos uiteengesit deur die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD). Slegs een gedeelte van die skool gaan byvoorbeeld na herope­ning gebruik word. “Leerders sal in klei­­­­ner groe­pe verdeel word, altyd by dieselfde lessenaar sit en aparte pouses kry,” vertel sy. Sosiale afstandmerkers is reeds aangebring terwyl leerders gereeld hul hande sal moet ontsmet.

Met skole wat heropen is daar natuur­lik gepaardgaande vrese wat in die prinsipaal se skoot val om te hanteer.

Volgens Alexander was daar groot onsekerheid toe die nuus bekend geword het dat skole heropen. “Byvoorbeeld oor hoe ons die leerders gaan op­deel en hoe ons sal les gee. Ons grootste uitdaging is tegnologie en om papierloos te werk,” sê sy.

Alexander glo dat ouers nou, meer as ooit, sal moet betrokke raak by hul kin­ders se skoolwerk en noue kontak met onderwysers en die skool sal moet hou. “Kontak met die skoolgemeenskap gaan ’n groot uitdaging wees,” voeg sy by.

Haar eie grootste vrees was dat die virus vinniger sou versprei wanneer leer­­­ders by die skool is, “maar met die riglyne van die WKOD en almal se sa­me­werking met veiligheidsmaatreëls, sal dit makliker wees as wat ek gedink het.”

Hoe het sy kopgehou tydens die inperking?

“Aan die begin was dit asof ons ’n verlengde vakansie sou hê. Vir ons skool was dit egter ’n teleurstelling, om­dat ons ons eerste mondigwordingsviering sou hou – ’n kaas-en-wyn-funksie. Dit was ’n skok toe ons dit moes kanselleer, want natuurlik het ons nie die im­pak van ‘lockdown’ verstaan nie. Met die verlenging van die tydperk was my grootste bekommernis ons matrikulante.”

Sy sê die matrieks en hul ouers was net so bekommerd oor die skooljaar, en onderrig moes voortgaan. “Omdat al ons leerders nie toegang het tot ’n rekenaar of selfs nie hul eie selfone óf toegang tot data het nie, is ons taak bemoeilik, want almal kon nie bereik word nie.”

Daar is egter vinnig ’n plan beraam, en gou was daar ’n Facebook-blad, Whats­App-groepe en selfs ’n radioprogram, AuriaLive, op Heartbeat FM wat gehelp het dat almal bybly.

Die inperking was ook vir Alexander ’n tyd van rus en introspeksie, ’n ge­leentheid om tyd met haar kinders en kleinkinders te spandeer. “Ek het ook motiveringsprogramme gekyk en kort kursusse voltooi, en die eerste keer in ’n lang tyd in die tuin gewerk.” Met haar leerders deurgaans in haar gedagtes en met die hulp van die WKOD het sy ’n voedingsprogram vir leerders op die been gebring.

Hoe voel sy oor die jaar wat voorlê? Dink sy dalk die jaar is reeds daarmee heen vir die matrieks?

Sy is beslis in haar antwoord: “As die matrikulante die res van die jaar met ’n positiewe houding benader en besef dat hulle die geleentheid moet gebruik, is hierdie jaar nie vir hulle verlore nie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)