DRIE oud-kollegas en steeds groot vriendinne, Magda Rensburg (72), Lily Manuel (82) en Susanna van Wieling (90), spog met meer as ’n eeu se onderwyservaring tussen hulle.
Hulle het oor die jare diep spore in die onderwys getrap en in ’n stadium van hulle onderskeie loopbane was al drie verbonde aan die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) waar hulle duisende voornemende, jong, en nie-so-jong studente vir die onderwysberoep geslyp het.
Die oudste van die drie, Susanna van Wieling, oftewel, “Juffrou Sannie”, is 90 en geniet nog goeie gesondheid.
Van Wieling is in 1929 op Zoar gebore, het daar skoolgegaan en ook lank daar skoolgehou by die Laerskool RP Botha. Sy het na 43 jaar in die onderwys afgetree as kindertuin-vakadviseur van die WKOD in 1994.
Die 82-jarige Juffrou Lily Manuel is die tweede oudste van die drie.
Sy het haar onderwysloopbaan in 1957 in De Rust begin, vir ’n jaar daar skoolgehou en in 1958 by die Laerskool De Villiers in Jubileestraat begin.
In 1977 word sy dosent aan OKSK en in 1988 word sy ook Kindertuin-vakadviseur tot haar aftrede in 1995 na ’n loopbaan van 39 jaar in die onderwys.
Magda Rensburg (72) was ’n nooi Johanson. Haar pa was lank prinsipaal van die Laerskool St Simons en sy het in 1972 by OKSK begin onderwys gee waar sy vir 25 jaar dosent was, todat die kollege se deure in 1996 gesluit is. (Deur Garnett Wicomb)