Toe die dramaturg en skrywer, Ricardo Arendse, verlede jaar na afloop van die KKNK en die uiters suksesvolle vertoning van sy drama, Die halwe huis, op pad terug is Kaap toe, het hy geweet hy moet iets terugploeg in Oudtshoorn, sy tuisdorp.
Aanpassingksklas 47 (AK47) is daardie dag gebore en ses maande later is agt sekondêre Oudtshoorn-skole by die projek betrokke. Arendse het verlede week verduidelik dat AK47 nie bloot ’n mentorskapprojek is nie. “Ons wil graag sien dat die leerders, onderwysers en ouers vanuit al die gemeenskappe in Oudtshoorn deur hierdie projek bymekaar gebring word.
AK47 moet die brug bou tussen gemeenskappe sodat die outjie wat in Gimmies is byvoorbeeld kan gaan kyk hoe lyk ’n verhoogstuk wat Môrester opvoer. Op hierdie manier leer die skole bymekaar.
Hulle herken mekaar se uitdagings, maar ook mekaar se vermoëns.”
Die eerste fase van AK47 was om onderewysers by die agt skole wat wou deelneem, te identifiseer en werksessies met hulle te doen. Die onderwysers idenitfiseer op hulle beurt weer leerders wat in die toneelwêreld belangstel en wat dan aan die projek deelneem. Die hoërskole wat tans deel is van die projek is: Aurial Kollege, Bridgton, Fizikele, Langenhoven Gimnasium, Môrester, Dysselsdorp, Protea en Oudtshoorn Vaardigheidskool met De rust wat volgende jaar ook aansluit. Volgens Arendse is daar reeds 150 leerders uit die agt skole betrokke.
“Sodra ons sessies met die onderwysers afgehandel is, begin ons met die kinders werk en dan word elemente soos ontwerp, teks, produksie en toneelspel hanteer. Ons het ’n hele span kundiges in die bedryf wat vrywilliglik as mentors en fasiliteerders optree,” sê Arendse en voeg by dat elke skool reeds aan ’n teaterteks begin skryf het.
Die mikpunt van die eerste AK47-projek is ’n Oudtshoorn Skole-teaterfees wat vir September, Erfenismaand, beplan word. “Tydens die teaterfees voer elke skool sy eie verhoogstuk by sy eie skoolsaal of venue op. Dit beteken dan dat daar agt verskillende produksies gaan wees wat in die gemeenskappe waar die skole geleë is, aangebied word. Dit is ’n reusetaak, maar dit kan beteken dat meer as 9 000 leerders toegang tot ’n verhoogstuk sal kry. Die kunste word dan na die gemeenskap gebring,” vertel Arendse opgewonde.
Op ’n vraag waar die naam, Aanpassingsklas 47, vandaan kom, glimlag Arendse. “Toe ek op skool was, was daar sogenaamde aanpassingsklasse vir kinders wat gesukkel het. By ons skool was dié klaskamer se nommer 47. Ek het ’n vriend gehad wat in die aanpassingsklas was.
Ek het later besef hy was eintlik slim, maar leer was net nie sy ding nie. Hy het ander belangstellings gehad. Toe besluit ek op AK47, want kunstenaars is mos maar anders. Ons kyk anders na dinge, maar deur al die eeue was kunstenaars die brugbouers en dit is wat AK47 moet wees – ’n brugbouer tussen gemeenskappe deur die kunste.” (HANNES VISSER)
Drama bou brûe tussen skole
