Rivierprojek vorder fluks

Groot gedeeltes van die Grobbelaarsrivier wat deur die dorp loop, is reeds skoongemaak.

Volgens die burgemeester, Johan Allers, is die gedeelte vanaf Kerk- tot by Bloemstraat en vanaf Albertstraat tot by die treinbrug langs die nuwe ontwikkeling reeds skoongemaak, maar daar is nog stompe en takke wat verwyder moet word. ’n Groot deel van die werk is deur kontrakteurs gedoen wat deur privaat-ondernemings aangestel is. Hy sê die twee gedeeltes wat nog ’n uitdaging is, is die gedeelte tussen Bloem- en Albertstraat en tussen Vicoria- en Van der Rietstraat.

Na afloop van die aanvanklike skoonmaak-proses is die munisipaliteit besig om verskeie opsies te oorweeg om te voorkom dat die rivierloop weer toegroei. Dit blyk dat inwoners eersdaags met die rivier langs vanaf Kerkstraat tot by Bloemstraat sal kan stap as al die materiaal verwyder is. (HANNES VISSER)